Vyf swaargewigte ding mee om Smeltkroesprys
Met eerste oogopslag mag Clover-Aardklop 2011 se oes debuutwerke in Afrikaans skraal lyk, maar kyk toneelliefhebbers dieper flits die besef dat al vyf aanspraakmakers op die AngloGold Ashanti-Smeltkroesprys swaargewigte is wat hewige bespreking en strydige emosies gaan uitlok. Selfs al is daar net 'n handvol debuut werke om deur te draf, verwag die beoordelaarspaneel dat niks gemaklik of vanselfsprekend uit hulle nabetragtings sal voortspruit nie.
Die AngloGold Ashanti-Smeltkroesprys, 'n hoogaangeskrewe aansporing vir toneelteksskrywers om al die skakerings van menslike belewing te verken en daaruit onvergeetlike teaterervarings te skep, word reeds die afgelope dekade toegeken aan die beste oorspronklike Afrikaanse toneelteks wat by die fees debuteer. Vorige wenners sluit in Harry Kalmer vir Briewe aan 'n Rooi Dak, Gys de Villiers vir Suig, Saartjie Botha vir Verkeer, Reza de Wet vir Blou Uur en Mike van Graan vir Die Generaal. Verlede jaar se wenner, Die kortstondige raklewe van Anastasia W deur Marlene van Niekerk is beskryf as "honende musiekteater" waarin die geweld en misdaad in Suid-Afrika deur skokkende galgehumor verbeeld is.
Toneelliefhebbers kan vanjaar uitsien na vyf debuut werke in Afrikaans. Deon Opperman se nuutste drama, Aantrekkingskrag ondersoek 'n krag wat "nes dié tussen son en aarde, sy houvas uitoefen op verhoudings tussen man en vrou, vrou en vrou en man en man". In die komiese sepie, Buurtwag verken Chris Vorster die chaos wat voortspruit wanneer nege bure onder "een lapa met vuiste, knuppels, gewere, handgranate en géén naasteliefde" mekaar bykom. Ná die sukses van sy roman en rolprent Roepman, skryf Jan van Tonder vir die eerste keer vir die teater. Die onbeholpe djin is 'n skreeusnaakse klug met onder andere Neels Coetzee, Erica Wessels en Ivan Zimmerman in die rolverdeling.
Die vierde aanspraakmaker, Ouma wys angel word beskryf as protesteater waarin Louise van Niekerk die geite van hedendaagse mammas met 'n knippie humor en goeie skeut ervare opstandigheid bekyk. Tertius Kapp skram weereens nie van onaangename waarhede weg nie. In Rooiland verken hy 'n web van bendestrukture binne 'n beknopte tronksel waarin die karakters hulself spartelend bevind.
Aanspraakmakers ding mee om 'n prysgeld van R30 000, asook 'n bykomende R58 000 om seker te maak dat fondse aan die wenner beskikbaar is om aan 'n nuwe Afrikaanse debuut teks vir die 2012 fees te begin werk.
In 2010, het AngloGold Ashanti ‘n nuwe teaterprys vir die beste Afrikaanse produksie bekend gestel. Die AngloGold Ashanti-FynGoudprys ter waarde van R8 000 sal toegeken word aan dié toneelstuk wat vanjaar daarin slaag om al die sonderlinge elemente van ‘n magiese, inspirerende ervaring op die verhoog te verbeeld. Wenners van beide die Smeltkroes en FynGoud pryse word op Vrydag 7 Oktober aangekondig.




