Teaterlegende kry weer lewe in drama

Deur: Anna-Retha Bouwer

Bron: Beeld

3 September 2012

 

Schalk Schoombie het kreatief wyd geploeg vir die Clover Aardklop-kunstefees, waar hy by verskeie produksies betrokke is. Anna-Retha Bouwer het met hom gesels.


Die akteur, dramaturg, joernalis en regisseur Schalk Schoombie se paaie het met dié van Anna Neethling-Pohl gekruis toe hy as jong akteur in 1981 betrokke was by die produksie Germanicus, waarmee die Staatsteater in Pretoria geopen is.

Schoombie sê hy was “net ’n spiesdraer” op die verhoog in die geselskap van Neethling-Pohl, wat die rol van Livia vertolk het, en nog ander groot teaterlegendes.

“Ek onthou veral haar stem en die groot gevoel van outoriteit wat haar omgewe het,” sê hy.

Neethling-Pohl is vanjaar 20 jaar gelede oorlede, maar ’n mens kan sê sy het onder die skrywersvingers van Schoombie nou weer lewe gekry in die produksie Liefde, Anna wat vroeg in Oktober op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees op Potchefstroom debuteer.

Sandra Prinsloo, wat een van Neethling-Pohl se studente was, speel die hoofrol.

Schoombie het die teks vir die produksie geskryf, maar die meeste navorsing is gedoen deur Liesl Marx.

“Dit was van die begin af belangrik om nie ’n dokumentêr oor haar lewe te maak nie, maar ’n volwaardige drama,” sê Schoombie.

Dit beteken hy moes fokus op een segment van haar lewe – ’n lewe wat gekenmerk is deur vele fasette, en dikwels uiteenlopende karaktereienskappe.

“Sy was dikwels goed beneuk,” sê hy. “Maar sy kon ook baie gul en vriendelik wees.”

Neethling-Pohl was glo ook bekend om haar besonder sterk wil en heftige menings.

“Ten spyte hiervan het sy ’n heilige ontsag vir die (apartheids-) volksleiers gehad,” sê Schoombie. ’n Dubbelsinnigheid en “blindheid” waaraan hy haar nie gaan laat ontsnap in die drama nie.

Schoombie sê sy was gek na mans, hoewel geen man ooit regtig kon kers vashou by die groot rol wat haar pa in haar lewe gespeel het nie.

Schoombie gebruik die einde van haar lewe as sy vertrekpunt en haar lewensverhaal word uit ’n soort beswyming of droom vertel met terugflitse na kernoomblikke.

Dit is veral haar verhouding met mans, en haar “manlike” belangstellings soos rugby, waarby hy gaan stilstaan het.

Vir Schoombie se produksie Risiko, wat vanjaar ook tydens die Na­sio­nale Kunstefees in Grahamstad te sien was en nou weer op Aardklop, het hy sterk gesteun op die tradisie van film noir.

“Mense loop nogal bleek om die kiewe daaruit,” sê hy. 

Sterk elemente van Hitchcock met die standaard­elemente van film noir, soos die private speurder en femme fatale, word teen ’n agtergrond van rooi en swart verbeeld vir ’n veel “onveiliger” produksie, sê Schoombie.

Hy maak nie ’n geheim daarvan dat hy die skryfproses hiervan besonder baie geniet het nie. 

“Ek sien dit juis as die rol van die kunstenaar om jou soms na sulke ‘ongemaklike’ plekke te neem.

“Ons lewe in ’n tyd van risiko en ’n soort paranoia,” sê hy. Dit is op hierdie teelaarde wat hierdie produksie lewe kry.

Maar dit is nie die gewone soort teater nie, waarsku hy. “Vriende wat daarna gekyk het, het die teater geskok verlaat en gesê: ‘Schalk, ons sal praat’,” lag hy.

Nog ’n projek waarby Schoombie betrokke was, is Ses Snare in Yellow Submarine, ’n musiekproduksie waarvoor hy die bindingsteks geskryf het en wat ook op Aardklop debuteer.

Hierdie projek het van hom op 55-jarige ouderdom ’n groot aanhanger van The Beatles gemaak, sê Schoombie.

“Ek het gaan luister na hul musiek en net besef hoe góéd hulle werklik was,” sê hy.

“The Beatles verteenwoordig in vele opsigte die hart van die 1960’s.” 

Schoombie sê hy het in sy navorsing op baie interessante feite oor dié legendariese Britse viertal afgekom, en wat hy deel gemaak het van die teks.

Die Ses Snare bestaan uit Blackie Swart, Théan Kotzé, Peter Hoven, MD Greyling, Leon Ecroignard en Pieter Smith wat almal kitaar speel en vergestalting aan The Beatles se musiek gaan gee.

Meer inligting oor die hoogtepunte in die lewe en loopbaan van Anna Neethling-Pohl op môre se kunsblad.

Vir meer inligting oor die vertoontye en -plekke van die produksies op Aardklop, besoek www.aardklop.co.za of Computicket.