Talle redes hoekom jy baie beslis Clover Aardklop moet besoek

Om te lag is goed vir jou gesondheid

Chris Vorster het vir sy splinternuwe Die geval van die mal huisvrou weer sy satiriese pen uitgehaal. Gegewe die tema grens dit ook ietwat aan die makabere kant. Creepy! Margit Meyer-Rödenbeck (ook bekend as Dowwe Dolla) en Marion Holm laat mense oudergewoonte weer skater. In Mafeking Road kry Herman Charles Bosman ’n moderne fisieke teater-kinkel vir die nuwe geslag. En om uit te vind wie die hedendaagse komediante en skerpskertsers is, is daar sLAGgat en GatsLAG – laasgenoemde net vir die hardebaarde.

 

Groot geeste – in lewende lywe en ter verering

Talle groot geeste van die teater is vanjaar deel van Clover Aardklop se program. Wilna Snyman is te sien in Op dees aarde van Reza de Wet (bekroonde dramaturg wat in Januarie vanjaar oorlede is); Sandra Prinsloo is Anna Neethling-Pohl in Liefde, Anna; Cobus Rossouw en Sandra Kotzé is na jare weer saam op die verhoog in Kind Hamlet (met Marthinus Basson as regisseur); dramaturg Athol Fugard se sewentigste verjaarsdag word gevier met Master Harold en die boys; en P.G. du Plessis laat die dobbelsteen rol in sy drama Teerling.

 

Opwindende jong talent om van kennis te neem

Die een groep doen die ding onder die naam Polony; die ander bevind hulle op die Pink Couch. Eersgenoemde kom van Matie-wêreld; die ander van Ikeys. Name soos Christiaan Olwagen, Wessel Pretorius, Tara Notcutt, Gideon Lombard en Albert Pretorius mag dalk nog nie klokke lui nie, maar as jy eers van hul werk beleef het, gaan jy dit beslis onthou.

 

N is vir neurose(geskep deur Olwagen) is by die Woordfees as beste produksie benoem, maar Pretorius se Ont- het uiteindelik die prys gewen. Nagwond is ’n nuwe Clover Aardklop-produksie van die Pink Couch-span wat verlede jaar by Aardklop die Clover Soveel Beter-prys vir beste aanbieding gewen het. Marlo Minnaar (in …Af) is vanjaar vir ’n Slurpie-Kanna by die Absa KKNK benoem.

 

Politik-trilogie

Dié is ’n jeugliga van ’n ander soort – almal rondom 25, onverskrokke, nie op hul bek geval nie, maar hulle praat nie politiek nie. Hulle dissekteer dit, hulle dryf heerlik die spot daarmee, hulle wys vir ons die keiser is kaal. ’n Mens kan seker so nou en dan mismoedig word, maar moet nooit jou humorsin verloor nie. Gaan kyk Ubu en die Secrecy Bill, Vagina Dentata – ’n Kabarett en Woza Andries?! – jy gaan nou en dan jou hande saamslaan, maar die vet weet, jy gaan lag ook.

 

Viva vir die teater! Viva! Viva!