Opwinding op die pienk sofa by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees

Deur: Marguerite Robinson

15 Augustus 2012

 

Op twaalfjarige ouderdom sien Tara Notcutt ’n gerestoureerde Queen Victoria-sofa in Dieprivier. Skelpienk. En die jongeling besluit daar en dan – dit is wat sy eendag haar teater gaan noem. The Pink Couch.

 

Nie so vergesog nie. Haar pa, Brian, het immers ’n teater in Woodstock gehad. Sy ken dus van teater – van die wêreld van die verhoog. Al was dit in Pa Brian se geval meer musiekteater. Maar die gogga het gebyt.

 

Sy’s Universiteit van Kaapstad toe. Drama gestudeer. Hoe dan nou anders? En daar begin sy ’n pad loop wat nie veel dramastudente aanpak nie. Dié van regisseur. Sy kan prentjies maak. Sy kan akteurs laat sit, laat staan, laat huil, laat lag. Dinge rangskik. Op ’n anderste manier. ’n Pink Couch-manier. Vergete is die leë dop, dit word die naam van ’n teatergeselskap.

 

En ander neem plek in op die sofa. Almal manne, almal uit die geledere van Ikeys: Albert Pretorius, Gideon Lombard, Mathew Lewis, James McGregor en Andrew Laubscher. Die hele spul sofa-sitters is 25 of 26.

 

(Terloops, Tara het nie die manne in die naam ingeboelie nie. Niemand anders het ’n beter voorstel gehad nie. En niemand besit ’n pienk sofa nie. Dié moes hulle huur vir ’n foto-sessie.)

 

Maar van sit en staan, kom niks gedaan. Die lotjie woel. “Die sterk punt van ons geselskap is dat ons werk skep wat ons graag sal wil sien,” sê Notcutt. Gelukkig wil ander dit ook sien.  Die bekroonde …miskien is al in sy vierde jaar wat dit opgevoer word. Hoewel dit tweetalig is, Engels en Afrikaans (Pretorius en Lombard kom uit Afrikaanse agtergronde), steek dit grense oor. Dit is net so aangebied by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad, by Absa KKNK, by Clover Aardklop, in Australië. “O ja,” voeg sy by, “die stel van ’n produksie moet in ’n kattebak kan pas. Anders kan ons dit nie bekostig nie.”

 

’n Ander kenmerk van die geselskap is dat niemand aan die sofa vasgeketting is nie. “Iets kom oor iemand se pad wat hy bitter graag wil doen, dan doen hy dit. Dit help ook natuurlik om te oorleef.”

 

By Clover Aardklop is Notcutt betrokke by drie produksies. Sy is besonder opgewonde oor die debuutproduksie Nagwond met Lombard, Pretorius (wat die teks geskryf het) en Cintaine Schutte. “Dit is die soort teater wat ons al vir ’n lang tyd wil doen. Dit is immers hoog tyd ná …miskien. Dit is eintlik ’n eenvoudige liefdesverhaal. Van die skoonheid daarvan, maar ook van die seerkry, van die wreedheid. “Nagwond. Is dit nie die mooiste woord wat Albert geskep het nie?” Notcutt sê “hierdie Engelse meisietjie van Kaapstad” het intussen verlief geraak op Afrikaans.

 

Van die verwondheid van die mens beweeg sy oor na die geliefde wêreld van Herman Charles Bosman met Mafeking Road. Sy lag lekker, want dit is nie HCB soos teatergangers dit ken nie, à la Patrick Mynhardt. Die akteurs, Laubscher en Lewis, sit nie rustig onder ’n boom nie. Hulle is op en aan die gang. The Cape Times het dit beskryf as “fisieke teater op sy beste”. “Dit is geskep vir die nuwe generasie en die jong mense is gek daaroor. Maar ja, daar is puriste wat uitstap.” Die Herman Charles Bosman Literary Society van Groot Marico het dit egter terdeë geniet. Hoekom sal oom Schalk Lourens hom so in ’n boks laat druk?

 

Dan vertel Notcutt van die dag wat sy haar boeglam geskrik het toe Frank Opperman haar gebel het. Hy het haar gevra om die regie te doen van die kinderproduksie Kaptein Blitz en die Skool vir Superheroes. “Dié man het meer ervaring in jare as wat ek op aarde is!”

 

Met soveel talent, met soveel toewyding en ’n lekker klap van die aweregse, kan ’n mens nie anders as om The Pink Couch te bewonder nie. Dit verdien ’n staanplek op die verhoog.

 

Die fees word van 2 tot 7 Oktober in Potchefstroom aangebied. Die program is beskikbaar op die webwerf www.cloveraardklop.co.za en besprekings kan gedoen word deur Computicket.