AngloGold Ashanti fees vanjaar in 'n ander gedaante!

5 September 2011


Nuusvrystelling

AngloGold Ashanti fees vanjaar in 'n ander gedaante!
 

Na 11 jaar as 'n Aardklop hoofborg is AngloGold Ashanti reeds deeglik ingeburger in die feeskultuur wat Potchefstroom eersdaags baldadig uit sy nate gaan laat bars. Met die jaarlikse toestroming van kunsliefhebbers en pretsoekers bied die fees 'n akkerryke oase waar mense oor kultuurgrense heen saam kuier en waar trotse Suid-Afrikaners geïnspireer word om hulle eie lewensbeskouings te verbreed.

As ‘n maatskappy woeker AngloGold Ashanti om die ryke diversiteit van kulture, idees, ervarings en eiesoortige vaardighede binne ons gasheergemeenskappe te ontgin. Met ons Aardklop bedrywighede is ons getrou aan die bevordering van volhoudbare ontwikkeling, ondersteuning aan opkomende kunstenaars en entrepreneurs, kreatiewe uitlewing en die uitbouïng van ‘n Suid-Afrikaanse kultuurerfenis.
 

Vanjaar "fees ons in 'n ander gedaante"... Ian Heyns, wie aan die hoof van AngloGold Ashanti se projekspan staan, verduidelik: "Buiten dat ons seker die mees sigbaar gaan wees as medewerker van Aardklop en die ATKV by die Clover-musiekarea, stel ons ook twee nuwe projekte bekend wat daarop gemik is om 'n groep kunshandwerkers met besigheidsvaardighede te bemagtig en om omgewingsbewustheid in ons gasheergemeenskappe aan te wakker."
 

Die room van plaaslike kunstenaars, wie voorheen op die AngloGold Ashanti Plaaslike Talent Verhoog geskitter het, kry vanjaar in die Clover-musiekarena 'n platform waar hulle met opwindende jong talent en gerekende kunstenaars skouers sal skuur. Kunstenaars vanuit die Merafong, Matlosana en Ikageng areas sal tydens die oggend- en middagprogram hul buiging maak. Hierdie sangers staan op die drumpel van hul musiekdeurbraak en mag dalk net as nuwe feesfonds gehore betower!

Die fees bring ook 'n ekonomiese inspuiting vir Potchefstroom en is wesenlik deel van ondernemingsontwikkelingdoelwitte. In gesprek met Mighty Moloko, senior vise president aan die stuur van transformasie, noem hy dat een van AngloGold Ashanti se nuwe projekte noue samewerking met die Dokter Kenneth Kaunda Distriksmunisipaliteit behels. "As voorloper tot die fees word 'n groep kunshandwerkers in besigheids- en bemarkingsbeginsels touwys te maak. Die doelwit is om te verseker dat hul stalletjies net soveel aftrek sal kry as die van meer ervare uitstallers wie reeds die kuns van feesverkope bemeester het," sê Mighty.
 

In samewerking met die Universiteit van Pretoria se dramadepartement, bied AngloGold Ashanti se omgewingsbestuureenheid ook leiding en ondersteuning aan 'n teater-vir-ontwikkelingsgroep wie besig is om 'n interaktiewe omgewingsbewaringstoneelstuk te skep. Die projek is daarop gemik om groter bewustheid rakende water as die oorsprong en voedingsbron van alle lewe in ons gasheergemeenskappe aan te moedig. In die week voor Aardklop spring dié toergeselsskap reeds weg met optredes by skole en gemeenskapsinstansies in die Matlosana en Merafong areas. Tydens die fees sal interaktiewe vertonings ook by verskeie instansies in die Tlokwe area aangebied word.
 

Net soos goudryke erts uit die aardkors in 'n smeltkroes tot edelmetaal gelouter word, word stories van menslike belewing in die gedagtewêreld van teksskrywers en akteurs tot onvergeetlike teaterervarings veredel. Daarom borg ons steeds met trots die AngloGold Ashanti Smeltkroesprys vir die beste oorspronklike Afrikaanse toneelteks wat by die fees debuteer, asook die AngloGold Ashanti Fyngoudprys vir die beste nuwe produksie wat op die planke gebring word.
 

Die AngloGold Ashanti span is deeglik gerat vir nog 'n onvergeetlike feesbelewenis. Om woorde by 'n welbekende volksdeuntjie te leen en vernuwend aan te pas, nooi ons feesgangers gul: "Kom dans Klaradyn... Khozi, Koos, Klaas en Kenzi".


ONDERSKRIF (Rudine.jpg): Mens kan amper sê dat Rudine Botha, 'n talentvolle jong sangeres van Fochville, op die voormalige AngloGold Ashanti Plaaslike Talent Verhoog uit haar kinderskoene gegroei het. Rudine het verlede jaar die AngloGold Ashanti RouGoudtoekenning in die kinders onder 15 kategorie gewen. Vanjaar maak die langbeen tiener haar debuut in die Clover-musiekarena.

ONDERSKRIF (Ikageng Billy Cosby.jpg): Die aansteeklike energie van Ikageng Billy Cosby, 'n dansgeselsskap wat hoofsaaklik uit weeskinders bestaan, het verlede jaar skoonskip in die AngloGold Ashanti RouGoudtoekennings gemaak. Groepleier, Isaac Sereetsi noem dat hulle prysgeld gebruik is om al die kinders se skoolgeld vir 2011 te betaal, asook om skooldrag en skoolbenodighede te koop. Tydens Aardklop maak die opwindende gemeenskapsgroep hul debuut in die Clover-musiekarena.

ONDERSKRIF (Nomthandazo.jpg): Met die stem van 'n nagtegaal beloof Nomthandazo Modiga om gehore in die Clover-musiekarena aan haar voete te hê. Die belowende jong jazz sangeres van Klerksdorp het in 2009 as algehele wenner van die AngloGold Ashanti RouGoudtoekennings uit die stryd getree.




Hoofborge

ATKV Beeld kykNET Lotto Vodacom