Nuusbrief - 15 September 2011

’n Gewoel en ’n gewerskaf

In Potchefstroom is daar die afgelope maand of wat gewoeker en die feesterrein is bedek met ’n groen tapyt – alles om eersdaags die eerste tentpenne in te slaan. Met dié dat Die Bult, soos dit plaaslik bekend staan, ook vroeër vanjaar afgekamp is, kan feesgangers uitsien na ’n lushof waar daar stofvry gekuier kan word.
Diegene wat graag op die feesterrein rondsnuffel en op soek is na die lekkerste skilpadjies (lewer-in-netvet) in Suid-Afrika, kan gerus van die aantreklike aanbod gebruik maak om ’n weekkaartjie te koop – ’n skamele R90 vir volwassenes en R40 vir skoolkinders.

Oral in die land is kunstenaars ook hard besig om te repeteer om ’n uitsonderlike program na Clover Aardklop te bring. Met die kaartjieverkope is dit duidelik wie die voorlopers is – vir Nataniël: Weeksaand Las Vegas (wat eksklusief by Aardklop aangebied word) is daar nog net ’n handjievol kaartjies beskikbaar, terwyl Janneman en My naam/My name is Ellen Pakkies ook flink verkoop.
Splinternuwe produksies kry ook baie goeie aftrek – Deon Opperman se Aantrekkingskrag; Eendsonderend met die gevierde akteurs Marius Weyers en Louis van Niekerk; Pieter Fourie se Mooi Maria wat terugkeer na die planke; en Chris Vorster se komiese sepie, Buurtwag, wat heerlik draadsteek met die hedendaagse samelewing.

Die groot konserte wat groot getalle trek, is Huisgenoot: Treffer na treffer-konsert, Aardspel en Trots Afrikaans.

Wat feesgangers nie weet nie, is dat studente van die Universiteit van Pretoria en lede uit die gemeenskap in Ikageng reeds weggespring het met die skep van ’n produksie (in Tswana) wat fokus op die bewaring en volhoubare gebruik van water. Dié Aardklop-inisiatief word aangebied in samewerking met AngloGold Ashanti en word ondersteun deur die Distell Stigting. Dié produksie gaan vóór die fees in die omstreke van Potchefstroom aangebied word en gedurende die fees kry leerders in Ikageng die geleentheid om op ’n vermaaklike manier meer te leer oor een van ons belangrikste natuurlike bronne.

Feesgangers wat nog nie verblyf bespreek het nie, sal moet gou spring. Besoek gerus www.cloveraardklop.co.za om te sien watter verskillende verblyfopsies beskikbaar is, of bel die verblyfkantoor by 018 294 7508.
 




Hoofborge

ATKV Beeld kykNET Lotto Vodacom