Nicola Hanekom op ’n drafstap by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees

Die bekroonde Nicola Hanekom (37) is vanjaar betrokke by twee produksies by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees: die ruimtelike teaterstuk Babbel en die solovertoning Hol.

 

Van Babbel is sy die skrywer en regisseur en van Hol skrywer en aktrise. Waar ander kunstenaars haar almiskie oortref deur nog ’nproduksie of twee in te pak, lê niemand die afstand af wat sy binne ’n uur kafdraf nie.

 

In Hol bevind die karakter haar op ’n trapmeule en sy hol – vir ’n hele agt kilometer, terwyl sy deurentyd praat en onder meer besin oor ’n kitskos-bestaan. Hanekom sê sy is glad nie ’n gim-mens nie, maar sy is fiks.

 

Voeg daarby ’n kreatiewe energie – “met ’n maniese ondertoon” – en jy’t iemand wat haar nie laat stuit nie. “Ek kan lank aanhou en het baie deursettingsvermoë.”

 

En in ’n bedryf wat gekenmerk word deur wisselvalligheid, het sy lankal al geleer dat jy nie vir werk kan sit en wag nie – jy moet dit self skep. En dit is presies wat sy met haar ruimtelike teater-trilogie, waarvan Babbel die laaste is, gedoen het.

 

“Ek het ’n geleentheid gesien, geïnspireer deur die Hollanders, om van binne na buite te beweeg. Dit bied soveel meer moontlikhede – om iets skouspelagtig te skep, wat meer fokus op die belewenis. ’n Mens hoef tog nie alles op so intellektuele vlak te verstaan nie.”

 

So het dit toe afgeskop met Betesda, gevolg deur Lot en nou Babbel. En die pryse wat die drie produksies ingepalm het, is legio – vir die beste wat ook al ’n mens kan bedink. “Ja,” sê sy met so ironiese laggie, “ek is op die oomblik die koningin van die pryse, maar vir alle praktiese doeleindes is ek nou werkloos. As jy al die feeste se dae bymekaartel, word ’n produksie ’n maand en ’n half opgevoer. Dit het nie ’nlewe daarna nie – dit is tragies.”

 

Dit is hoekom sy aanhou woeker en weer flink aan die skryf is. En nou gaan sy van buite na die binnekant van die teater beweeg, juis omdat almal nou wil buite toe. Dit beteken egter hoegenaamd nie dat sy die pad van die realisme gaan volg nie. “Realisme is vir rolprente. Storie vertel, ja, maar ek sien nie die funksie van realisme in vir teater nie.”

 

Maar wat baie beslis ’n harde werklikheid is, is dat sy eersdaags op Potchefstroom in die sweet van haar aanskyn haar brood gaan verdien.

 

*Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees word van 2 tot 7 Oktober in Potchefstroom aangebied. Vir meer inligting besoek www.cloveraardklop.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.