'n Taal van waarde

Deur: Tim du Plessis

Bron: Beeld.com

6 November 2012

 

 

Dis ’n ou twakstorie dat Afrfikaans ’n sterwende taal is, maar dié storie is nog springlewendig, sê Tim du Plessis. 

 

Verlede week was ’n goeie een vir Afrikaans. Die resultate van die 2011-sensus is uitgereik – met goeie nuus vir Afrikaans. In die tien jaar sedert die 2001-sensus het Afrikaans 871 000 huistaalsprekers bygekry.

 

Dis onseker of dit werklike groei is of die resultaat van ’n onakkurate sensus die vorige keer. Maar dit maak nie saak nie. Want dit slaan vir ’n ses, vir die soveelste keer, die ou twakstorie dat Afrikaans ’n sterwende taal is.

 

En dié twakstorie is nog springlewendig, glo dit as u wil. Karen Meiring, die uitvoerende hoof van kykNET, vertel van iemand in die burokrasie waar sy werk wat vir haar vra: hoekom wil kykNET nóg Afrikaanse kanale hê?

 

Die taal kwyn dan...

 

Like hell is Afrikaans besig om te kwyn!

 

Die goeie nuus oor die groei in Afrikaanse moedertaalsprekers het my laat wonder: is dit omdat daar in die afgelope tien jaar harder as in die vorige dekade vir Afrikaans gestry en baklei is, of het dit maar vanself gebeur?

 

Die land se totale bevolking het gegroei en die Afrikaanssprekende deel daarvan het saamgegroei – nogal teen amper dieselfde koers – 13% vir Afrikaans teenoor 15% vir die totale bevolking.

 

Of is dit omdat daar daadwerklik en onbeskaamd ingetree is vir Afrikaans?

 

Dié denkskool wat wegstaan van “intree vir Afrikaans” kyk bes moontlik na dié groei en sê: sien, ons het julle mos gesê, die taal sorg vir homself, hou op baklei. Julle maak ons net skaam.

 

Met respek, dis sommer twak. Op grond van niks anders as daardie soms gevaarlike ding genaamd “die spesmaas van die joernalis” wil ek vanaand sê: as dit nie was vir die ywer waarmee daar die afgelope tien jaar baklei is vir Afrikaans, hofsake gemaak is, mediaveldtogte gevoer is en ondankbare oorredingswerk gedoen is nie, kon ons maklik vanaand hier na agteruitboer-syfers gesit en kyk het.

 

Noem my gerus maar ’n taalstryder, selfs ’n taalbul, maar ek lig my hoed vanaand vir almal in “die Afrikaanse kraal” wat hulle beywer vir die behoud van die taal, wat stutmure bou, veral op kampusse waar Afrikaans se status as akademiese taal steeds in die waaksaal is, vir regsgeleerdes wat veg vir Afrikaans as ’n hoftaal, asook vir diegene in die handel en bedryf wat ywer sodat die taal sy kommersiële waarde behou.

 

As ek Media24, die maatskappy waar ek werk, ’n pluimpie mag gee: ons het ’n drakoniese beleid dat ons hoofstroompublikasies in hul hoofseksies net Afrikaanse advertensies mag dra.

 

’n Maklike beleid om uit te vaardig, maar moeiliker om toe te pas. Ons moet soms advertensies – goeie geld – wegwys terwyl ons sake doen in seker die moeilikste tyd ooit in die bestaan van mediamaatskappye.

 

Soms as ek so luister na dié “chill tog net oor Afrikaans”-koor – die een wat sê “relax ’n bietjie, dude.

 

Kyk hoe baie Afrikaanse CD’s word verkoop en hoe baie mense gaan Aardklop en KKNK toe” – as ek hulle hoor, dan wonder ek: is dié gesindheid nie ’n groter bedreiging vir Afrikaans as ’n regering wat Afrikaans behandel met ’n mengsel van vyandigheid en onbeholpe verwaarlosing nie?

 

Tog, terwyl ons dank betuig vir diegene en instansies wat die vlag opneem vir Afrikaans, moet ons besef ons taal se toekoms sal op die duur veiliger wees as daar volgehoue prestasie in Afrikaans is – deur die mense wat die taal praat.

 

Ons taal moet waarde hê en moedertaalsprekers wat die hele Suid-Afrikaanse bevolking kan waardeer en bewonder.

 

Sentiment en nostalgie gaan ons nie red nie. Omtrent almal wat ek ken, is nostalgies oor treinry, maar niemand ry eintlik meer trein nie.

 

Hieraan dink ek nou die dag toe ek ’n vraag probeer antwoord wat ’n joernalistiek-student aangestuur het vir ’n taak.

 

Sy sê/vra: In die verlede het Afrikaanse koerante verkoop op “Afrikaner”-sentiment en omdat hulle ’n bepaalde ideologie bevorder het. Waarop verkoop julle vandag?

 

Die antwoord is eenvoudig: goeie joernalistiek – in Afrikaans. In daardie volgorde.

 

Ons Afrikaanse koerante en tydskrifte het ’n aandeel daarin dat Afrikaans steeds saak maak en profiel het in Suid-Afrika.

 

Maar dis nie ons primêre rol nie. Ons hooftaak en missie is meer kommer­sieel as kultureel: goeie joernalistiek waarvoor lesers bereid sal wees om te betaal en waarmee adverteerders geassosieer wil wees.

 

As ons dít goed doen – ín Afrikaans – is die bevordering van die taal ’n betekenisvolle neweproduk.

 

Ten slotte: ons is maar almal ’n bietjie meer of ’n bietjie minder bekommerd oor Suid-Afrika se toekoms. Saam met Thabo Mbeki, Mamphela Ramphele, Jonathan Jansen en ander.

 

En ons weet baie goed dis onrealisties om te dink dit kan goed gaan met Afrikaans en Afrikaners as dit sleg gaan met die res van die land. Soos Flip Buys gesê het: as die bos brand, help dit niks om te sê ek is ’n doringboom, ek sal nie brand nie.

 

Maar soos in die verlede glo ek dié land sal deurtrek – ploeter-ploeter. Ons het immers een goeie ding van die Engelse geërf – the ability to muddle through. Gaan lees weer prof. Hermann Giliomee se Die Afrikaners.

 

“Voortsukkel” loop soos ’n goue draad deur die boek. En oorlewing, dikwels teen alle verwagting in.

 

Ek sluit graag af met ’n paragraaf uit ’n rubriek wat die toekomskundige Clem Sunter nou die dag oor die Afrikaners geskryf het. Hy het onder meer gesê:

 

“Afrikaners have a collective consciousness which is the spi­ritual foundation of an effective commercial network.

 

“Language, religion, culture and a common outlook on life bind them into teams that are almost unbeatable when challenged by less cohesive competitors. This trait obviously extends into sport as well.

 

“It is a form of ubuntu: you help me and I will help you because together we can achieve more.

 

“It’s just that you have to speak Die Taal!”

 

Du Plessis was ook redakteur van Beeld en Rapport.

 

Frans Esterhuyse, spotprenttekenaar van Beeld, is op die FAK se prestige-aand vereer vir sy spotprente. Hier skerts hy oor “Pretoria”-Afrikaans.