'n Naam om te onthou

Bron: Die Burger.com

1 Desember 2012

 

Die plofbare vertolkings van die opkomende akteur Wessel ­Pretorius op die Aardklopkunstefees vanjaar het gehore in vervoering gehad. Sy soloproduksie Ont- het hom die prys vir die beste akteur in die sak gebring. Die sleutels was gestrooptheid en ritueel, het hy aan Schalk Schoombie verklap. 


Kyk mooi na die gesig hiernaas. Daar is kenners wat meen dit is die toekoms van plaaslike verhoogspel.

Die jaar 2012 was die jaar van Wessel Pretorius (26). Ont-, sy selfgeskrewe soloproduksie, is op die Stellenbosse Woordfees as die beste dramaproduksie bekroon, en in Oktober is hy op die Aardklop-kunstefees as die beste akteur aangewys.

Op haar blog beskryf die resensent Marina Griebenow-Nel Ont- as “ ’n kragtoer” en “keurig en beeldskoon in elke aspek van die uitvoering daarvan”. Sy voorspel dat Wessel plaaslik én internasionaal naam sal maak.

“Ont- was my poging om ’n geleentheid vir myself te skep waar ek die soort werk kan aanpak waarvoor ek nie sommer gou die kans sou kry nie. Die beginsels van Grotowski en Artaud het my geboei; waar die akteur met baie min moet klaarkom om die storie te vertel, met ’n sterk klem op lyf en gebaar. Ek het toe begin skryf met geen sterk struktuur in gedagte nie, net geweet ek wil praat oor familieverhoudings en die grootwordproses, die ontnugtering wat met ‘volwasse’ word gepaard gaan.”

Met gestrooptheid, waarop die titel dui, en ritueel wou hy ’n verhoogruimte skep wat “heilig” is volgens die Britse toneelghoeroe Peter Brook se definisie. “Ek het geen idee gehad wat ek doen nie, is steeds nie seker nie, maar twee dinge wou ek aan myself bewys: dat ek nog game is vir uitdagings en dat ek nie by ander se definisies of perke hoef te berus nie.”

Ont- is in Kaapstad, Stellenbosch, Bloemfontein en Potchefstroom opgevoer. “Ek het nie geweet hoe elke plek se mense dit sou ervaar of aanvaar nie. Dis nie ’n konvensionele opvoering nie; ’n mens weet dus nooit of gehore gaan aanklank vind of die geduld sal hê om te bly sit nie. Die grootste uitdaging is om nie voor die tyd flou te val nie.”

Die toekennings stem hom nederig en dankbaar. “Alle pryse is hoogs subjektief, maar dis altyd lekker om te weet mense waardeer en ondersteun jou pogings. En die prysgeld is nie te versmaai nie.”

Sy veelsydigheid blyk uit ’n bonte verskeidenheid karakters; in N vir Neurose, Vagina Dentata, Ubu en die Secrecy Bill en talle ander. In radiodrama voel Wessel hom ewe tuis; Flessie vir Depressie, Daar Leef Mense, Moeder Hanna en Grensgeval vir RSG. Verder verskyn hy in ’n episode van Vloeksteen op kykNET.

Dié oud-Matie is ’n boorling van Nigel, getoë in die Laeveld, gematrikuleer aan die Hoërskool Nelspruit. Hy het ’n ouer broer, Johan, wat ’n sportakademie op Nelspruit begin het.

In gr. 3 het Wessel “Die witbroek sit nie mooi nie, die witbroek sit te styf” gelip-sync vir die skoolrevue. “Ek wou nooit daar afklim nie.”

Sy ma, Hester, is die eienaar van ’n kleuterskool, en sy pa, Johan, was al polisieman, eienaar van ’n sportwinkel en loodgieter. Deesdae is hy ’n kleuterskool-administrateur.

Sy drama-onderwyser, Jan Prinsloo – by wie hy twee keer per week buitemuurs klas geloop het – het hom aangespoor. “Ek is vroeg al geleer om myself op ordentlike rolmodelle te skoei, soos Lau­rence Olivier en John Gielgud.”

In gr. 9 het Wessel vir ’n eisteddfod ’n monoloog van die blinde siener Tiresias uit Sophokles se Antigone gedoen, in gr. 10 ’n stuk uit Die Hond van God deur Van Wyk Louw, in gr. 11 Koning Oedipus.

“Ek het nie ’n clue gehad wat ek doen nie, maar ek het geleer as jy aan die diep kant ingegooi word, moet jy leer swem; wie het dan nou tyd vir die vlak waters? Deur Jan het ek besef dat ’n mens hierdie besigheid van toneelspel ernstig mag opneem; trouens, as jy nie jou volle energie en aandag daaraan gaan gee nie, moet jy dit liewer los.”

Ander mentors sluit in Marthinus Basson, Antoinette Kellermann en Christiaan Olwagen.

“By Marthinus het ek geleer om verantwoordelikheid vir myself op die verhoog te aanvaar, om altyd op my tone te wees en nie tevrede te wees met die vervelige eerste antwoord nie, interessanter met die skep van karakters om te gaan, maar altyd eerlik te wees.

“By Antoinette het ek geleer om nie te veel tyd aan onnodige maniertjies en truuks te bestee nie, maar bloot eers op die vertel van die storie te fokus. By Christiaan, om buite die lyne te dink, om myself nooit by maklike definisies van spel of teater te berus nie en bowenal om kanse te waag en te vertrou.”

As dramastudent op Stellenbosch was hy ernstig, toegewy. In sy tweede jaar het hy Salieri in Amadeus gespeel – steeds ’n hoogtepunt. In 2010 is hy vir die Fleur du Cap-prys vir die mees belowende student benoem.

“Om passievol te wees, te droom en fantaseer oor jou lewe is belangrik vir ’n jong akteur, maar dan moet jy werk en elke geleentheid wat jy kan kry, aangryp om te speel.”

Hy het ’n obsessie met die Britse akteur Ben Whishaw (Perfume, Bright Star), wat op 23 Hamlet vertolk het. “Vandat ek hom die eerste keer in ’n fliek gesien het, het ek geweet dat dit die soort akteur is wat ek wil wees. Stem, lyf en taal word volledig benut – gemeng met ’n ontasbare en enigmatiese kwaliteit, amper ’n konneksie met die magiese, spirituele komponent van stories vertel. Ek verwonder my aan hom.”

Hy het geen behoefte om in ’n sepie te speel nie en verkies die verhoog, veral die werk wat die Magnet-teater van Kaapstad aanpak, waar die speler verantwoordelik is vir 90% van wat op die verhoog gebeur, met die minimum rekwisiete, stel en effekte. “Dis net die speler en die teks en die gehoor. Die akteur se hele instrument word ingespan. Die res is verbeelding, eksperimentering en uitdaging.”

Die beste teater is iets wat nooit in enige ander medium gesien kan word nie, meen hy. “Nuwe werk, wat nie sommer dadelik geëtiketteer kan word nie, wat iets anders probeer, vreesloos. Iets kan goed of sleg wees, maar solank dit my bybly, laat dink, laat voel – was dit glad nie ’n mors van tyd nie; inteendeel.”

Hy wil graag meer klassieke teater doen, soos Spoke van Ibsen en Die Seemeeu van Tsjechof, Shakespeare-rolle soos Iago en Richard III.
Wat het hy in sy ses weke by die Appel-teatergeselskap in Den Haag geleer?

“Vreesloosheid. Tydens repetisies vra niemand ekskuus nie, niemand kry skaam of voel verleë nie. Jy maak foute, jy gaan mal, jy probeer alles, en niemand kyk jou snaaks aan nie. Hulle is trots op hul werk en verduur geen intimidasie van enige aard nie. Dit kom seker saam met ’n behoorlike infrastruktuur en salaris, maar daar’s ook ’n selfvertroue by hulle wat my verstom het.”

Hy woon in Tamboerskloof, Kaapstad. Gimnasium- en ander oefenprogramme verveel hom, maar joga het sy lewe verander. Hy het goeie vriende; en al kan hy sosiaal verkeer “saam met die wildstes”, kan hy dae of selfs weke aaneen ’n kluisenaar wees. “Ek dink die vriendskappe wat tel, is die onvoorwaardelikes.”

Swak en sterk punte? “Ek raak maklik knorrig, ongeduldig en geïrriteerd. Ek kan myself soms heeltemal te ernstig opneem; en as ek dit nie monitor nie, raak ek neuroties. Andersyds is ek nie vreeslik gepla oor ’n image nie en is ek gewoonlik eerlik en reguit.”

Geen wonder Ont- het gehore ontroer én ontvoer nie.

- Bykomende bron: http://blogs.24.com/fromthemarina/2012/03/06/bright-young-actor-redefines-aesthetic-wessel-pretorius-in-ont