Meesterstuk van Pinter in vertaalde vorm

Bron: Beeld

10 September 2012

 

Die toneelstuk The Home­coming (1965), wat allerweë beskou word as die Britse dramaturg Harold Pinter se meesterwerk, word vroeg in Oktober in Afrikaans aangebied op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom.

Henry Milne van 7de Laan-faam is die regisseur van die vertaalde werk wat as Huis toe opgevoer word.

Die akteurs is Neels van Jaarsveld, Deon Coetzee, Amalia Uys, Werner Coetser, Johan Engelbrecht en Armand Aucamp.

Die drama speel af in ’n groot vertrek in ’n ou huis in die noorde van Londen.

Ná ’n verblyf in die VSA neem Teddy, ’n filosofieprofessor, sy vrou, Ruth, om sy werkersklasfamilie in Londen, waar hy grootgeword het, te ontmoet.

Ruth se geterg van Teddy se twee broers en sy pa deurweek die drama met seksuele spanning.

Die fokus van die drama is ’n wrede sielkundige kompetisie tussen die karakters wat mekaar brutaal bespot in ’n oedipale spel van one-upman­ship.

Hierdie spanning kulmineer in die terugkeer van Teddy na sy drie seuns in die VSA sonder Ruth, wat by Teddy se familie agterbly.

 

Die Broadway-produksie van The Homecoming is in 1967 met die Tony-prys vir beste drama bekroon.

 

Sanlam-ouditorium, 120 min. Kaartjies kos R100. 2 Okt. 09:00, 3 Okt. 20:30, 4 Okt. 09:00, 5 Okt. 15:30, 6 Okt. 20:30.