Mahala vermaak

In ’n lewe waar sente omdraai ons nasionale sport geword het, is daar goeie nuus. By vanjaar se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees is daar weer twee gratis verhoë binne die omheinde area. Elkeen van hierdie verhoë spog met ’n groot verskeidenheid kunstenaars wat oud en jonk gaan vermaak sonder dat dit nodig sal wees om die beursie uit te haal.

 

Die Clover/ATKV Musiekarena word in samewerking met AngloGold Ashanti aangebied. Die jongspan gaan elke dag by die verhoog bederf word met twee ATKV kinderproduksies. Lente en Oom Karoolus maak daagliks hier ’n draai en kaptein Blitz gaan ook kom wys dat hy vir geen duiwel stuit nie. Tjiff en Tjaff is nog twee geliefdes wat beloof om ook elke dag by hierdie verhoog in te loer. Benewens ’n groot verskeidenheid musikante wat deur die loop van elke dag hulle musiek met Aardklopfeesgangers gaan deel, sorg die sjarmante Hannes van Wyk, dalk beter bekend as Krynauw van Egoli, daagliks vir ’n opwindende kletssessie met een of ander bekende. Staan gerus nader om te hoor watter geheime hy by hulle probeer uitlok.

 

Van die kunstenaars wat in die ATKV/Clover Musiekarena gesien kan word is: Die Penkoppe, Wynand en Cheree, Andries Hendrik Potgieter, David Fourie, Rian Ungerer, Esti en Vintage Kings.

 

Die tweede gratis verhoog is die Castle Verhoog wat reg deur die fees ook heerlike vermaak deur gevestigde en talentvolle, opkomende kunstenaars gaan verskaf. Die optredes op hierdie verhoog begin elke dag, buiten Saterdag, om 12:30. Op Saterdag 6 Oktober skop die program reeds om 10 uur hier af. Later daardie dag, om 17:00, word die Springbokke se wedstryd teen die All Blacks hier op ’n groot skerm vertoon. ’n Bykomende meevaller is Wynand en Cheree se uurlange gratis vertoning op hierdie verhoog, Woensdagaand 3 Oktober om 20:00. Daarna gaan Henk Grimsell partytjiemusiek maak tot laat. Saans sal Marius Anandale die Castle-verhoog aan die brand sing tot kort voor middernag.

 

Die musikante wat die res van die week op die Castle Verhoog gesien en gehoor kan word sluit onder meer die volgende name in: Dirk van der Westhuizen, Margaret’s Daughter, No Yellow Line Driving, Riaan van Rensburg, Steve D, Fredi Nest, Simeon Hamman en die Leon Shaw Syndicate.

 

Verdere goeie nuus is dat 2012 se toegangsgelde presies dieselfde is as die van verlede jaar. Dinsdag tot Donderdag betaal kinders R10 en volwassenes R20 per dag. Vrydag en Saterdag is die toegangsprys vir kinders R20 en vir volwassenes R30. ’n Weektoegangskaart is beskikbaar teen R50 vir kinders en R90 vir volwassenes.

 

Die fees word van 2 tot 7 Oktober in Potchefstroom aangebied. Kaartjies is beskikbaar by Computicket. Vir meer besonderhede besoek Clover Aardklop se webwerf by www.cloveraardklop.co.za