Kuns, kos en iets vir die kinders by 2012 se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees

Met vanjaar se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees se visuele kuns-program tree fotografie sterk na vore. Die kern van die program is fotograaf Daniel Naudé, vanjaar se feeskunstenaar, se uitstalling Animal Farm, waarin hy veral fokus op die Africanis-hond as onderwerp.

 

Obie Oberholzer se Long Distance neem die kyker saam met hom op reis met sy foto’s van mense en plekke van alle uithoeke van die aarde. Die fotografie-tema word voortgesit met die groepuitstallings Friends Sharing Images, die Market Photo Workshop se Tracing Territories en INK-Complete: Capturing Music II.

 

Solo-uitstallings van Barbara Wildenboer, Clare Menck, Craig Müller, Hanneke Benadé, Paul Cooper en Talita Swarts, wat onderskeidelik in verskeie mediums werk, is ook deel van die program. Groepuitstallings wissel van ’n spesiale versameling van die SMAC-kunsgalery tot die 100 finaliste van die Absa L’Atelier-kompetisie wat te sien sal wees.

 

Die program sluit ook in Dismotief waarin verskillende kunsdissiplines byeengebring word in ’n ondersoek na hoe Afrikaner-manlikheid uitgedruk word; Skilder met woorde III: 1 2 3 blok myself!; Totius & Pierneef: Digter en skilder op uitstalling; en die Woordkuns-jeugprojek.

 

Vir die kunssafari en die daaglikse kunstoere moet feesgangers deur Computicket bespreek.

 

Kinders kan uitsien na Dinosourus-safari!, Kaptein Blitz en die Skool vir Superheroes (met Frank Opperman) en Victor en die Groen Planeet.

 

Smulpape moet gou spring en bespreek vir Chris Koch se Whisky en kos: lip-lek-lekker en die keurige Clover Aardklop Lang Tafel wat op die Sondag plaasvind.

 

Hou die pers en die webwerf dop vir die Diskoers-gesprekke en die program van die Boeke-oase – alles gratis. Met ’n FAK-gespreksreeks word daar gesoek na die “Grootste Afrikaner”, na aanleiding van die benoemings uit ’n openbare kompetisie op www.maroelamedia.co.za.

 

Die fees word van 2 tot 7 Oktober in Potchefstroom aangebied.