Ken jy tant Mossie? trek laer om Afrikaanse liedere

Bron: Litnet

Deur: Gerdus Senekal

27 September 2012

 

Wat is “Ken jy tant Mossie?”, waaroor gaan dit?

Ken jy tant Mossie? is ’n groep musikante wat laer getrek het om ou Afrikaanse treffers af te stof en ’n nuwe baadjie aan te trek. Daar is soveel juwele in die Afrikaanse musiekskatkis en talle hiervan is stadig maar seker besig om in die vergetelheid te verdwyn. “Sarie Marais” en “Tant Mossie” het wel geen bekendstelling onder die jonger geslag nodig nie, maar kan dieselfde gesê word van “Mooie Mietjie” en “Liewe Maan”? Dit is dus ons hart dat jonk en oud Afrikaanse musiek op ’n heel unieke wyse sal beleef en herleef.

 

Wie is by die projek betrokke? Hoekom juis hierdie mense? Wat is elkeen se rol en hoe het julle by mekaar uitgekom?

Ter wille van demokrasie stel ons die groep alfabeties (volgens vanne) voor.

Die eerste musikant is Izelle Claassen. Sy is ’n boorling van Potchefstroom en dit was hoeka op haar verjaardag wat sy die wiel aan die rol gesit het met ’n spontane koffiehuiskonsert. Izelle het baie ervaring in die musiekbedryf, toer gereeld saam met Louis Brittz, en het op Laurika Rauch se Grootste Treffers Live-DVD gespeel. Sy speel viool en saksofoon en help van tyd tot tyd met die perkussie.

Werner Ferreira is die man op die klawers. Hy is ook plaaslik, maar in meer as een opsig. Enersyds is hy plaaslik omdat hy van Potchefstroom af kom. Andersyds is hy plaaslik omdat hy van die plaas af kom. Sy talente as orrelis kom handig te pas as hy trekklavier en klavier speel.

Derdens is dit die dame met die goue stem, al die pad uit Oudtshoorn, Steffie le Roux. Steffie sing reeds jare lank en was deel van die bekende a cappella-groep Cutt Glass. As jy nie haar stem hoor tydens die vertoning nie, is sy besig om een of ander stuk perkussie by te dam.

Les bes, Babette Viljoen. Sy is ’n Oos-Vrystater en tree telkens op met haar Hoërskool Paul Erasmus-baadjie, al die pad uit Senekal. Babette het bekendheid verwerf met Anderkant Nêrens se mense wat ook al ’n draai by Aardklop gemaak het. Dan was sy ook die wenner van ATKV Crescendo-Kreatief in 2011. Die lied “Namibbekoring” is genomineer as een van die top 10 van die Huisgenoot Tempo-liedjieskryfkompetisie.

Terwyl hierdie vier die musiek na vore bring, vleg Corneels Schabort die program aanmekaar met woorde. Nie net is Corneels deel van die improvisasie-komediegroep Lagnes nie, maar hy was ook in 2010 op die kassie met reeks 35 van Noot vir Noot. Hy vermaak die gehoor tydens die vertoning met staaltjies en gedigte en sommer net liewe lawwighede.

 

Ken jy tant Mossie? word deur ’n groep jong volwassenes aangebied vir wie hierdie liedjies miskien bietjie voor hulle tyd is. Wat het julle juis op hierdie tradisionele “volkstreffers” uit die FAK-bundel laat besluit?

Ons het darem in ons prulle jeug nog hierdie volksliedjies gesing en gehoor, so dit was darem nog in ons tyd van toepassing. Izelle wou al lankal 'n instrumentale konsert saamstel met volksliedjies, terwyl Babette reeds besig was om 'n opvolgkonsert vir Anderkant Nêrens se mense te skryf. Toe hierdie twee se drome ontmoet, is Ken jy tant Mossie? gebore.

 

Het die groep/konsert enige verbintenis met die FAK? Is julle deur die FAK genader om hierdie projek te loods of is dit maar net ’n lukrake verband gegrond op die inhoud van die konsert?

Die projek is onafhanklik geloods. Die FAK het die vertoning in die Pierneefteater bygewoon en was so beïndruk dat hulle dadelik gevra het om betrokke te raak. Tant Mossie is baie dankbaar vir die ondersteuning van die FAK in hierdie heerlike projek! Ons beoog om verskillende projekte in die toekoms saam aan te pak.

 

’n Persverklaring op julleFacebook-blad sê dat Ken jy tant Mossie? die FAK-treffers ontsluit. Voel julle dat julle verwerking van hierdie liedjies vir jonger Suid-Afrikaners (wat nie noodwendig met al die liedjies vertroud is nie) meer toeganklik en relevant is? Is dit hoegenaamd vir julle van belang of iets waaraan julle gedink het?

Die liedjies in die vertoning word met verskeie benaderings en verskillende musiekstyle aangepak. Humor speel 'n belangrike rol in die teks, asook in die liedjies. En omdat humor en lag nie afhang van ouderdom nie, maak dit die vertoning toeganklik vir ’n ieder en ’n elk.

 

Ek sien die “Eerste Mossie-toer” loop al sedert April, en dat julle al van Potch tot Pretoria tot Senekal opgetree het. Is dit meestal ouer mense wat die konserte bywoon? Hoe lyk die ontvangs sover?

Ons kan getuig dat beide jonk en oud die vertonings bywoon. En in dieselfde asem: sowel jonk as oud geniet dit terdeë. Die laaste vertoning was by die Voortrekkermonument en het positiewe terugvoer gekry. En die liedere lok verskillende emosies uit: van trane onder die ouer garde tydens die vlaglied tot uitbundige lag onder die jonges as daar gesing word oor ’n hoender wat ’n eier nie kan lê nie.

 

Het julle al negatiewe terugvoer gekry? Iets soos klagtes dat julle met tradisie en volksbesit mors, of dat julle interpretasies “verkeerd” is?

Glad nie. Inteendeel, daar is ’n groot waardering dat ou liedjies op hierdie manier opnuut bekendgestel word aan ’n nuwe, jonger generasie. Die blote feit dat die FAK reeds gevra het dat Ken jy tant Mossie? in November optree by hulle prestige-prysuitdelingsgeleentheid is ’n duidelike aanduiding dat die hoë lui binne Afrikaanse kringe ’n groot waardering hiervoor het, en ons is baie dankbaar vir die oorweldigende ondersteuning.

 

Dis seker vir julle ’n redelike hoogtepunt om by Clover Aardklop op te tree? Gaan die Aardklop-show verskil van hoe die konsert tot dusver aangebied is? Is dit ’n geval van bigger and better, of bly julle eerder by julle beproefde benadering?

Die vertoning is elke keer anders, met iets wat bykom of wegval. Voor elke vertoning kom een van die groeplede met 'n nuwe verwerking van 'n treffer of met 'n nuwe instrument by. So, selfs al het jy ’n vertoning voorheen gesien, sal daar elke keer ’n ietsie anders op die planke ’n buiging maak.