Hulde aan groot geeste en opwindende jongelinge in toneelprogram by Clover Aardklop

By die 15de Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom word daar vanjaar hulde gebring aan groot teatergeeste, terwyl opwindende jong talent ook ten toon gestel gaan word.

 

In Schalk Schoombie se Liefde, Anna word daar gefokus op die formidabele Anna Neethling-Pohl (alom bekend as Tant Anna), wat nie net haar merk gemaak het as aktrise nie, maar ook as mentor. Die naamrol word vertolk deur Sandra Prinsloo, wat as jong student aan Tukkies by haar klas gehad het.

 

Feesgangers kan uitsien na die seldsame geleentheid om die gevierde veteraanakteur Cobus Rossouw op die verhoog te sien in Marthinus Basson se Kind Hamlet. Die dood van die bekroonde dramaturg Reza de Wet aan die begin van vanjaar word gedenk met ’n opvoering van Op dees aarde (een van haar vroeëre dramas en deel van die Vrystaat-trilogie), met onder andere Wilna Snyman in die rolverdeling.

 

Die satiriese Ubu en die Secrecy Bill is die werk van opwindende Stellenbosse talent met tydgenoot Christiaan Olwagen as regisseur. Twee aanbiedings van Woza Andries?! – ’n vroeëre produksie uit dieselfde stal – sal vir die noordelinge te sien wees. Ander debuutproduksies is Nagwond­ van die ...miskien­­­-span onder leiding van Tara Notcutt; Bloed met Stephanie Hough, Vicky Stemmet en Lulu Botha; en Die ware verhaal van Cornia Koekemoer en Botha Botha Botha waar die TV-karakters lyf kry op die verhoog.

 

Athol Fugard se 80ste verjaardag word gevier met die eerste professionele produksie van Master Harold en die boys in Afrikaans; Henry Mylne regisseer Huis toe – ’n vertaling van Nobelpryswenner Harold Pinter se The Homecoming; en Deon Opperman se Sweet Sorrows word Bittersoet met Elsabé Daneel in die rol van verskeie vroue. Dié drie produksies debuteer ook by Clover Aardklop.

 

Pryswennerproduksies van ander feeste wat te sien sal wees, is Nicola Hanekom se nuutste ruimtelike teaterproduksie Babbel, wat etlike Kannas ingepalm het; Wessel Pretorius se Ont-, wat die prys vir die beste produksie by die Woordfees gewen het; en ’n nuwerwetse blik op Chris Barnard se Die rebellie van Lafras Verwey, wat met drie Fleur du Cap-pryse weggestap het.

 

Akteurs wat dit sielalleen op die verhoog waag, is Margit Meyer-Rödenbeck (Dowwe Dolla dink diep), Nicola Hanekom (Hol), Marion Holm (Holmakiesie), Sandra Prinsloo (Oskar en die pienk tannie), Bettie Kemp (TaMiem van Swellendam), Marlo Minnaar (...Af), Neels Clasen (Annale van ’n windgat), Coba-Maryn Wilsenach (Medea), en David Butler (onderskeidelik in Die Bram Fischer-wals en A Teacher in the Bushveld).

 

Ook op die spyskaart is Mafeking Road – Herman Charles Bosman vir die nuwe generasie; Die vrou vantevore met Brümilda van Rensburg op haar beste; Dit voel leeg (as die hart weg is, maar nou is dit alright) waarvoor Kim Cloete ’n Kanna-benoeming gekry het; Dorings en rose (geskryf deur Ben Kruger); Magnet Theatre se nuwe juweel, Kragbox, metEphraim Gordon en Dann-Jaques Mouton; Polony se frenetiese komedie N is vir neurose; Schalk Schoombie se sielkundige riller Risiko; Milan Murray en Marcel van Heerden in PG du Plessis se Teerling; en Voor ek vergeet met Amanda Strydom en Hannes van Wyk.

 

Oudergewoonte sal die ATKV-tienertoneel: Finaal ’n toonkas wees van ontluikende talent. ’n Verskeidenheid Afrikaanse komediante gaan saans twee konserte aanbied, Slaggat en Gatslag, waarvan laasgenoemde die hardebaard-ouboet is.

 

Die fees word van 2 tot 7 Oktober in Potchefstroom aangebied.