Gogola... Groei deur Kennis



In samewerking met die Universiteit van Pretoria se dramadepartement, stel AngloGold Ashanti vanjaar as deel van die maatskappy se Aardklop bedrywighede 'n toegepaste dramaprojek met omgewingsbewaring as kernboodskap bekend.
 

Kwessies rondom die behoud van natuurlike hulpbronne, veral water is van kardinale belang vir die toekoms van ons planeet en die vooruitgang van mense wat daarop leef. Gogola... Groei deur Kennis is daarop gemik om kinders en jong volwassenes in plaaslike gemeenskappe te laat insien dat elke persoon 'n verantwoordelikheid rondom die gebruik van water, herwinning en aanplant van bome het.

Op Maandag 26 September het die Gogola toergeselsskap weggespring met optredes by skole in die Vaal Reefs omgewing en in Vierfontein. Tydens die feesweek sal interaktiewe vertonings ook by verskeie biblioteke, kinderhuise en sorgsentrums in Matlosana, Merafong en Tlokwe aangebied word. Meer as 100 inheemse bome sal tydens Gogola se twee-weektoer aangeplant en 7 000 pakkies groetesaad aan kinders uitgedeel word.
 

ONDERSKRIF: ' n Jong aktrise wat aan die Gogola toergeselsskap behoort het Maandag 26 September gehelp om pakkies groentesaad aan leerlinge by Vaal Reefs Technical High School uit te deel. By elke skool waar die toergeselsskap aandoen, word twee inheemse bome vir planting geskenk asook 'n pakkie groentesaad vir elke kind. Skole en ander instansies waar daar voedselnood is, kry ook genoeg saad om 'n welige groenteakker aan te lê.
 

ONDERSKRIF: Dramastudente van Pretoria Universiteit betrek graag gehoorlede by hul energieke vertonings. Leerlinge in Vierfontein het gekraai van die lag terwyl hulle belangrike boodskappe oor herwinning, waterbesoedeling en boomplanting in 'n vermaaklike Gogola toneelstuk kon beleef.




Hoofborge

ATKV Beeld kykNET Lotto Vodacom