Dana Snyman is op Ta'Miem se spoor

Deur: Dana Snyman

Bron: Beeld

14 September 2012

 

Die ANC het onlangs laat blyk hy wil gaan kyk hoe die Afrikaners in die 1930’s die armblankevraagstuk opgelos het. Dana Snyman vertel hoe die skrywer M.E.R. destyds daarby betrokke was.

Die foto is op ’n spoorwegstasie, ’n haltetjie, iewers op die platteland geneem, byna 80 jaar gelede. Op die perron staan Maria Elizabeth Rothmann (M.E.R.) met ’n koffer en ’n komberssak by haar. 
Iets op die foto vat aan ’n mens.



Miskien is dit omdat M.E.R. alleen daar in die verlatenheid staan, waardig in ’n jas wat effens sakkerig aan haar hang.

Ek kan my verkyk aan dié foto. 

Dit is moontlik geneem in die tyd toe M.E.R. as reisende sekretaresse van die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) en lid van die Carnegie-kommissie van ondersoek na die armblankevraagstuk deur die land gereis het. 

Wie dit geneem het en waar dit was, sê sy nie in haar outobiografie, My beskeie deel, waarin die foto verskyn nie.

Sy het op Swellendam gewoon en het tydens die Carnegie-ondersoek dikwels per trein van die Kaap af gereis, dikwels alleen die binneland in. 

Sommige mense het haar glo ook Ta’ Miem genoem.

Ek het nie veel van haar geweet voordat ek My beskeie deel verlede jaar in ’n tweedehandse boekwinkel gekoop het nie. Sedertdien het sy een van my gunsteling- Afrikaanse skrywers geword.

Ek het ’n vergroting van die foto gemaak en in ’n lêer gebêre.

...

Nou die dag het ek die lêer weer gaan soek. Dit was nadat die ANC in Mei ’n beleidsdokument uitgereik het waarin gesê word een van die party se werkkomitees wil vasstel hoe die Afrikaners in die 1930’s die armblankevraagstuk opgelos het. 

Dalk kan die party iets daaruit leer. Ek was amper lus en stuur die foto van Ta’ Miem vir die ANC, met ’n nota daarby: “Gaan kyk veral wat dié vrou als gedoen het.”

Die Carnegie-ondersoek was op armblankes gerig, maar die kommissie het erken swart armoede was net so ’n erge probleem as wit armoede. Baie Afrikaners het destyds geredeneer as die wit mense in die land welvarender is, sal dit die swart mense ook help.

Meer as ’n kwart – ’n kwart – van Afrikaners was in die 1920’s armblankes. Anders gestel, van ’n wit bevolking van skaars 2 miljoen was meer as 300 000 armlastig.

Een van die redes daarvoor is die verwoesting wat die Anglo-Boere­oorlog oor die land gebring het. Talle boere het gesukkel om weer ’n boerdery aan die gang te kry. ’n Trek na die stede was onvermydelik, maar dit het nie vir almal ekonomiese voorspoed gebring nie; vir die meeste was dit net ’n nuwe soort sukkel.

Derduisende Afrikaners het veral in Johannesburg in krotbuurte beland soortgelyk aan hedendaagse plakkerskampe. 

Met dieselfde gevolge: misdaad, kindermishandeling, dronkenskap, huismoles ...

Iets moet hieraan gedoen word, het mense soos Ta’ Miem besef. 

Die NG Kerk het in 1916 op Cradock en in 1923 in Bloemfontein groot kongresse oor die armblankes gehou.

Die ACVV is een van die organisasies wat gestig is om arm wit mense te probeer help – met kos, met klere, met blyplek.

In 1927 het ’n deurbraak gekom toe dr. F.P. Keppel, president van die Carnegie-korporasie, die land besoek het, onder meer om vas te stel wat gedoen kan word met geld wat vir navorsing nagelaat is deur die Amerikaanse ­nyweraar en filantroop Andrew Carnegie. 

Die opvoedkundige dr. Ernie Joubert, met die steun van die NG Kerk, het die armblankekwessie onder Keppel se aandag gebring. Die korporasie het ingestem om £62 000 te gee vir ’n ondersoek.

’n Kommissie is saamgestel uit kundiges – ’n medikus, ’n sosioloog, ’n ekonoom, ’n opvoedkundige en ’n sielkundige – en op 1 Januarie 1929 het die Carnegie-ondersoek begin. 

Die taak van M.E.R., die enigste vrou in die kommissie, was om ’n sosiologiese verslag oor hoe en waar die armes leef te help opstel.

Die kommissie se lede het nie in komiteekamers gaan sit en getuienis aangehoor nie. Hulle het gaan kyk hoe die armes leef. Hulle het self gaan tel hoeveel daar is. 

Daarom het Ta’ Miem soms trein gery. Ander kere het sy saam met die ander kommissielede gereis, in ’n Tin Lizzy, ’n 1928-Ford wat die kommissie tot sy beskikking gehad het.
In die sowat ’n jaar wat die kommissie met sy werk besig was, is meer as 16 000 km met die Tin Lizzy afgelê.

Die foto van Ta’ Miem op die perron in haar jas kon in Namakwaland geneem gewees het, want sy het lank daar vertoef, op haar eie. 

Sy het geluister na die arm trekboere se verdriet en versugtinge en dit noukeurig in ’n notaboek opgeteken.

Daardie foto kon op baie plekke in hierdie land geneem gewees het.

Ta’ Miem het ook die Karoo, die Vrystaat, Wes-Transvaal, die Bosveld en Oos-Transvaal besoek, soms saam met ander kommissielede, soms alleen. Sy het in die agterstrate van Johannesburg, Kaapstad, Durban en Port Elizabeth gestap.

Sy het in honderde huisies se voorkamer en kombuis gesit en die mense se rou woorde in haar notaboeke neergeskryf: hoe die boer by Bloemhof die pa, ma en sewe kinders nie langer as bywoners wou hê nie, hoe hulle met ’n donkiekar tot in Johannesburg aangesukkel het, hoe die pa begin drink het en hoe die een dogter op 16 swanger geraak het.

Daar was honderde sulke gevalle.

Ta’ Miem was veral bekommerd oor die toestande waarin ma’s babas in die wêreld moes bring. Die mense had klinieke nodig, hospitale, skole.

Aan die einde van 1929 het sy na haar huis op Swellendam teruggekeer en ’n amptelike verslag oor die armblankevraagstuk uit haar notaboeke begin saamstel. Die ander kommissielede het dieselfde gedoen, elk uit die oogpunt van sy eie vakgebied. 

Die volledige Carnegie-verslag het in 1932 verskyn, in vyf boekdele. Die verslag is nou Africana, maar dit behoort nie vir die ANC moeilik te wees om ’n stel in die hande te kry nie.

Lees ’n mens veral Ta’ Miem se bydrae, besef jy armoede is maar armoede. Hedendaagse armoede verskil nie veel van vroeër se armoede nie.
Maar Ta’ Miem het nie met ag-siestog-oë na die armes gekyk nie. Een groep noem sy die swakkelinge. 

“Dit is die klas wat weens een of ander karakterswakheid soos onmatigheid in drankgebruik, luiheid, sorgeloosheid of misdadigheid die prooi geword het van die uitbuiter of tot ’n laer ekonomiese peil gesink het,” skryf sy.

Die doel van die Carnegie-kommissie was nie om ’n volledige oplossing vir die armblankevraagstuk te verskaf nie, maar in die verslag word dit duidelik gestel: “Daar is ernstige gevare verbonde aan pogings om die ekonomiese rehabilitasie van die armblankes langs die kortste moontlike weg vir hom te probeer bewerkstellig op ’n manier wat die prikkel tot eiehulp verswak.”

Miskien kan die ANC ook iets uit dié waarskuwing leer: “Op die lange duur kan verbetering nie deur bloot uiterlike maatreëls bereik word nie; dit moet berus op veranderinge in die mens self.”

Die verslag het as die geestelike ruggraat gedien van die Volkskongres wat in 1933 in Kimberley gehou is. 

Die politici het hierna toenemend betrokke geraak by die armblankevraagstuk. Later het van die Volkskongres se besprekingspunte landswette geword. 

Maar Ta’ Miem het nooit die politiek betree nie. Sy het maar weer teruggekeer na Swellendam en voortgegaan met haar ACVV-werk.

...

Oral in die land kan vandag nog van haar en die ACVV se lewende monumente gesien word: ouetehuise, kinderhuise, klinieke. Hoeveel miljoene kospakkies is daar nie al oor die jare heen deur ACVV-hande uitgedeel nie? 

Hoeveel ACVV-pannekoeke is daar nie gebak ter stywing van die een of ander fonds vir die armes nie? 

Daardie foto van Ta’ Miem het ek intussen op my muur hier langs my skryftafel geplak. Sy het die sak komberse glo altyd op haar reise saamgepiekel, want sy wou nie hê die ACVV moet ekstra geld betaal vir beddegoed vir haar op die trein nie.

Die ANC kan baie by haar leer, ja. 
Ons almal kan by Ta’ Miem leer.

- Dana Snyman is ’n skrywer. 

Nog ’n opvoering van ‘TaMiem’ by Aardklop
Kaartjies vir die opvoerings van TaMiem van Swellendam, wat handel oor die lewe van die skrywer M.E.R., is gou uitverkoop vir die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees. 

Die goeie nuus is dat nog ’n opvoering bygevoeg is, vir Saterdag 6 Oktober om 14:30 in die Heimat-saal op die universiteitskampus.

Ander dokumentêre produksies by Aardklop is:

- Die Bram Fischer wals deur Harry Kalmer. Dit is gegrond op navorsing en gesprekke met Fischer se medegevangenes Hugh Lewin en Dennis Goldberg en sy dogter Ilse. Hy is bekend as die kommunis wat Nelson Mandela van die galg gered het, maar in die stuk word gekyk hoe sy Afrikanerwortels sy politieke uitkyk en eindelik sy lot bepaal het. Met David Butler as Bram Fischer.

- Liefde, Anna deur Schalk Schoombie met Louis van Niekerk as regisseur bring Anna Neethling-Pohl as aktrise, taalstryder en vuurvreter na die verhoog. Sandra Prinsloo is in die naamrol. 

- Kind Hamlet, waarin Cobus Rossouw weer te sien is nadat hy 40 jaar gelede in Hamlet in Afrikaans was. Eben Genis vertolk die naamrol. Rossouw en sy aktrise- regisseursvrou, Sandra Kotzé, begelei hom deur Elsinore op sy reis van vakman tot kunstenaar. Marthinus Basson is die regisseur. 

Kaartjies is by Computicket te kry.