Collages wat kap na mag, narsisme

Deur: Rudolf Stehle

Bron: Beeld.com

29 Oktober 2012

 

Die visuele kunstenaar Abri de Swardt se werk is onlangs as deel van die inter- dissiplinêre produksie Dismotief op die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom uitgestal. Rudolf Stehle het met hom gesels.

De Swardt (24) het pas met sy meestersgraad in beeldende kuns aan die Goldsmiths-universiteit in Londen begin en kon daarom nie teenwoordig wees by die uitstalling van sy werk op Aardklop nie.

Nadat hy verlede jaar die rektorsprys vir uitnemende prestasie in die kunste en sosiale wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) ontvang het, het hy in Augustus gehoor hy het ook ’n studiebeurs van die Skye-stigting losgeslaan.

Dié boorling van George in die Suid-Kaap het verlede jaar sy eerste solo-uitstalling, To Walk on Water, in Blank Projects in Kaapstad gehad. 

“Dit het bestaan uit ’n samestelling van figure in water en die fluïditeit van water is benut om spesifiek kontemporêre Men’s Health-manlikheid, narsisme en die dryf tot perfeksie te ondersoek deur verwysings na doop-seremonies, Bartholomeus Dias, Christus, Charles Foster Kane, Ophelia, Marat en Narsissus,” vertel hy.

De Swardt meen visuele kunste bied die ideale forum vir praktyke wat nie soseer binne een spesifieke diskoers of veld pas nie.

“Dit is veral die idee dat die visuele kan raak aan dit wat buite taal val wat my noop om visuele situasies te skep.” 

Hy maak gebruik van collage om die konstruksie van mag, veral met betrekking tot die bestaande hegemoniese opvattings oor die post-koloniale, manlikheid, spiritualiteit en die omgewing te destabiliseer.

In sommige van sy installasies wend De Swardt collage op die menslike liggaam aan wat hy dan deur die lens in video of foto’s verewig. 

“Deur gedrukte materiale uit tydskrifte en boeke, asook ander gevonde voorwerpe, te benut, speel ek met die herkenbare palimpseste van betekenis in die materiale self.” 

Terselfdertyd speel De Swardt op ’n anachronistiese wyse met literêre, filmiese, mitiese en geskiedkundige uitbeeldings om narratiewe te skep wat verbintenisse oor tyd en plek maak en sodoende oorsprong problematies maak. 

In sy Outeniqua-reeks van drie werke wat in Dismotief uitgestal is, maak De Swardt eweneens van collage gebruik.

Die reeks reageer veral op dié versreëls in Wyn Roux se gedig “luister die vlieë se voete en oë”: “dooies tuimel van berge af./ aspris. die val ken geen keer nie./ dooies verrot omdat hul so hardhorend is,/ luister die vlieë se voete en oë”

“Ek het gedink ek moet iets maak uit ’n baie spesifieke en persoonlike ervaring of konteks omdat generiese simbole van Afrikaner-patriargie en die afbreek daarvan à la Bitterkomix al so eng is – dit voel baie 1994.”

Met sy Outeniqua-reeks wil De Swardt ’n nuwe en uitgebreide ikonografie om die Afrikanerdom ontwikkel en iets van ’n nuwe generasie weerspieël.

Vir De Swardt, wat uit ’n tweetalige huis kom, maar Engels as moedertaal het, is Afrikaner-manlikheid nog altyd iets waarmee hy ’n baie ambivalente verhouding het. 

Hy identifiseer nóg met ’n konserwatiewe Afrikaner-manlikheid nóg met ’n eenvormige alternatiewe stem, want hulle is ewe generies en voorskriftelik. 

Vir hom is die nuanses van tyd en plek dus noodsaaklik.

In die drie selfportrette vervleg De Swardt fragmente van die geskiedenis van George met sy ervaringe as adolossent tydens sy skooljare aan die Hoërskool Outeniqua van 2002 tot 2006. 

Dié fragmente sluit in die bye op die skool se kenteken, die kwagga wat in 1883 in dié gebied uitgesterf het, George wat in 1811 na koning George III genoem is en die vliegongeluk in 2002 waarin die oudkrieketkaptein Hansie Cronjé in die Outeniquaberge dood is.

Vir De Swardt het Cronjé mettertyd iets van ’n simbool geword van die dekmantel van skaamte wat Afrikaner-manlikheid omgeef.

“Dit is natuurlik ietwat ironies omdat krieket endemies een van die steunpilare van die koloniale Engelsheid en papawer-wit manlikheid is – ’n jintelmanspel.” Die selfportrette is teen ’n swart agtergrond geskiet – ’n tong-in-die-kies-verwysing na die problematiek van Roelof van Wyk se Jong Afrikaner-reeks.

“Terwyl sy reeks baie oor ’n sigbaarheid gaan, gaan myne meer oor ’n onsigbaarheid, oor Afrikanerdom as ’n spook.”