Christiaan Olwagen: Protesteater vir 'n nuwe Suid-Afrika

Bron: Litnet

Datum: 20 Augustus 2012

 

Jy behartig die regie van die stukke Woza Andries!?Vagina Dentata en Ubu en die Secrecy Bill by die Aardklop-fees. Hoe balanseer jy die werk?


Wel Woza Andries!? het ons al in 2010 vir die eerste keer gedoen enVagina Dentata vroeër die jaar. Ubu en die Secrecy Bill is die enigste "nuwe” een. So dis redelik "gebalanseer”. Ek sou ook sê met deeglike beplanning is enigiets moontlik. 


Jy beskryf die drie stukke as 'n "trilogie" (die Politik-trilogie), tog lyk dit op die oog af (in die beskrywings) nie of daar tematiese ooreenkomste is nie. Hoe sluit die stukke by mekaar aan?

In 2010 het Robert Volker, ek en die geselskap Woza Andries!?aanmekaar geskaaf kort na Eugène Terre’Blanche se dood. Ons was gefassineer deur die "paranoia" wat regdeur die land vlam gevat het. Op facebook, twitter en broadcast bbms het mense goed kwyt geraak soos "die nag van die lang messe is op ons". Ander het weer gesê dat burgeroorlog gaan uitbreek sodra oudpresident Nelson Mandela heengaan. Die rassespanning het weer van voor af vlam gevat. Ons het besluit om te kyk of ons 'n politieke "protesteater"-stuk kon doen. Ons was moeg daarvoor dat "protes"-produksies wat in die ‘80’s gemaak is, konstant "recycle" word. Ons wou ondersoek instel oor die moontlikheid van nuwe kommentaar oor hedendaagse politiek. Ons wou as 'n nuwe generasie kritiek op die huidige bedeling toepas. As jy kyk watse impak produksies soosWoza Albert destyds gehad het, dan kan jy nie dink dat daar nie meer gereeld politieke satire op die planke is nie. Dit was die impetus agter iets soos Woza Andries!? – die stuk is 'n verwerking/herskrywing/aanpassing van Woza Albert. Dit maak gebruik van dieselfde vraagstuk as die vorige produksie: Wat sou gebeur as Jesus Christus nou Suid-Afrika toe kom? Ons wou kyk na die wyse waarop die "jeug" van vandag steeds beïnvloed word deur die "sondes van ons voorvaders". 

Vagina Dentata - 'n kabaret handel hoofsaaklik oor die rol van die vrou in die Suid-Afrikaanse samelewing. Dis losweg geskoei op Ensler se Vagina Monologues. As ‘n land met een van die hoogste syfers in vrouegeweld, raak "die vrou" 'n metafoor vir hoe die land deur dié wat mag het, "verkrag" word. Dis 'n kabaret in die Duitse tradisie van die term, so dit maak gebruik van ironie, parodie en satire om sosiale kommentaar te lewer. Dis basies 'n politieke musiekblyspel. As geselskap was ons geïnteresseerd in die idee van "feministiese" teater. Ons wou basies mense se vooropgestelde idees daarvan bevraagteken. Die apatie wat ons in Suid-Afrika kweek oor kwessies soos geweld teen vrouens word 'n metafoor vir hoe apaties ons as 'n volk is oor ons eie politiek.

Ubu en die Secrecy Bill is die derde en laaste episode in die trilogie. Ons wil spesifiek kyk na die land se politieke verlede en dus ook hede. Waar ons was en waar ons nou is. Nelson Mandela het gesê: "A critical, independent and investigative press is the lifeblood of any democracy." Dinsdag 22 November, of "Black Tuesday", het ons 'n terugslag gekry in ons strewe na 'n gesonde demokrasie. Die blote feit dat iets soos die "Secrecy Bill" ons realiteit kan word, is vreesaanjaend. Die produksie is 'n postmodernistiese herskrywing van Alfred Jarry se Ubu Roi(Koning Ubu) en Kentridge/Taylor se produksie van Ubu and the Truth Commission. Jarry se Ubu handel oor die gekskeerder-hanswors wat politieke mag in die hande kry. Kentridge/Taylor se Ubu kyk na die "Waarheid" in die "WVK" en is 'n siniese blik op versoening. Ubu en die Secrecy Bill handel hoofsaaklik oor leuens en korrupsie. Die produksie kyk na hoe die verslaner van die monster op die ou end in die monster verander het. 'n Blik op die verlede en die politieke hede van die land en 'n waarskuwing aan diegene wat als het en vat en dit dan nog boonop onder die mat wil vee: die waarheid sal altyd uitkom. 

Die Politik-trilogie is protesteater vir 'n nuwe Suid-Afrika. Alhoewel die wonde van die verlede nog hoegenaamd nie gesond is nie, mag ons nie toelaat dat dit ons belemmer van kritiek lewer, vraagstukke openbaar, repliek lewer en debatte ontstook nie. As geselskap hoop ons dat die produksies ten minste 'n platform sal oopmaak vir gesprekke rondom die politieke kwessies in ons land. Ons hoop dat dit nie net politici, joernaliste, teoretici, kenners en teatermakers is wat deelneem aan die gesprek nie, maar die man (en vrou) op straat. Die trilogie maak gebruik van sketse, vinjette, fisieke teater, hansworsery, musieknommers, poppeteater en gevaarlike dosisse ironie, parodie en satire. 

Veral Ubu en die Secrecy Bill is duidelik politieke satire. Aan die hand van die onlangse The Spear-debakel, glo jy die kunste se rol in satire is nog welkom en belangrik? Hoe sou jy die aard van Ubu se satire beskryf?

Natuurlik is dit belangrik. Dis noodsááklik. Of dit nog "welkom" is, kan ek nie beantwoord nie. Die satire in Ubu: 'n Zapiro-cartoon op acid. 

In 2011 het jy die Rosalie van der Gucht-toekenning vir beste jong regisseur ontvang vir jou werk aan Woza Andries!?. Hoe voel jy oor hierdie toekenning en wat het dit bygedra tot jou sukses in hierdie verband?

Ek is dankbaar vir die toekenning. Maar ek behou steeds perspektief. Miskien het dit vir my deure oopgemaak. Ek weet nie. Ek is trots op al die produksies wat ek doen, of dit nou nominasies of toekennings ontvang of nie. Dit gaan oor die werk. 

Hoe ondervind jy die reaksie van gehore op die drie stukke en wat verwag jy van gehore by die Aardklop-fees?

Soms loop mense uit. Soms wag hulle na die tyd om vir ons te sê hoe dankbaar hulle is en hoe belangrik die "boodskap" vir hulle is. Gehore verskil. Ek was nog nooit by Aardklop met 'n professionele produksie nie - ek het geen verwagtinge nie.

Jy is besig met jou meestersgraad in drama by die Universiteit Stellenbosch. Wat is jou korttermyn- en langtermyn-mikpunte in die bedryf?

Ek het nie mikpunte nie. Ek hoop dat ek iewers finansieel bietjie meer stabiel sal raak sodat ek kan aanhou doen wat ek doen. In ons bedryf kan jy nie regtig "mikpunte" hê nie. Jy vat als soos dit oor jou pad kom. As ek oor 'n paar jaar steeds kan doen wat ek doen en met die mense saam met wie ek dit wil doen, sal ek bly wees.

Wat is jou gevoel oor Suid-Afrikaanse en Afrikaanse teater in die algemeen? Is die teatergemeenskap en -gehore gesond, of wat kan gedoen word om meer voete by die teaters te kry? 

Ek verkies om nie die vraag te beantwoord nie. Ek mag dalk op tone trap. My stelling op bostaande sou wees: Kom ons hou net aan om die werk te maak.