ATKV se suksesvolle Ave Maria/Halleluja-musiekproduksie by Clover Aardklop te sien
Deur die loop van die eeue is baie musiek met die titel “Ave Maria” gekomponeer. Ook is die gebruik van die woordjie “Halleluja/Alleluia” ‘n algemene verskynsel in die musiekkonteks.
Die ATKV, in samewerking met die US Woordfees, het gedurende 2011 ‘n unieke musiekproduksie gebaseer op die musikale samevloeiing van komposisies met “Ave Maria” of “Halleluja” as titel die lig
laat sien. Hierdie produksie is reeds met luide apppous en staande gehore by Woordfees, Innibos, VryFees, KKNK sowel as by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad ontvang.
Ave Maria/Halleluja kuier ook by vanjaar se Clover Aardklop Nasionale Kunstefees. Talle geliefde werke sal gehoor kan word, o.a. die bekende Ave Maria van Schubert, die ander gunsteling Ave Maria van Bach-Gounod, en ook Handel se bekende Halleluja-koor uit “Die Messias”. Ook ligter musiek word in ‘n klassieke styl met ‘n effense jazz-aanslag verwerk met o.a. Leonard Cohen seHalleluja en Anneli van Rooyen se alombekende Halleluja waarna gehore sal kan uitsien.
Die verwerkings is gedoen deur die Gautengse orrelis, Ockie Vermeulen, en die volgende kunstenaars sal deel van die produksie vorm:
Brooklyn Poet Jak de Priester
Hanli Stapela (sopraan)
Lizelle le Roux (viool)
Ockie Vermeulen (klavier)*musiekregisseur
Juan Floors Oosthuizen (kitaar)
Abraham Mennen (altsaksofoon)
Christi-Louise Swanepoel (kontrabas)
Hugo Radyn (tromme), en
die Hoërskool Wonderboom-koor o.l.v. Albert Morland.
Hierdie unieke produksie vind op Saterdagmiddag, 6 Oktober om 15:00 in die Sanlam Ouditorium in Potchefstroom plaas.
Kaartjies (R110 per persoon) is beskikbaar by Computicket.
Die vertoning duur 70 minute met geen pouse.








