Andries Vrey: 'Ons is baie trots op die pas afgelope fees'

Deur: Henry Cloete

Bron: Litnet

15 Oktober 2012

 

Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees 2012 het onlangs in Potchefstroom plaasgevind. Andries Vrey, uitvoerende hoof van die fees, beantwoord ’n paar vrae oor hoogtepunte, die balans van produksies en gerugte dat die fees na Pretoria kan verskuif.

 

Goeiedag, Andries. Hoe gaan dit, so na die afloop van Aardklop 2012?

Tussen die oppak, wegpak en syfers finaliseer gaan dit baie goed. Ons is baie trots op die pas afgelope fees, en dat Clover Aardklop, ten spyte van baie se kommer omtrent heersende ekonomiese toestande, ons integriteit as vervaardigende fees kon behou met ’n opdragprogram uit die boonste rakke.

 

Verskoon dat ek so met die deur in die huis val, maar almal praat oor die berigte dat Aardklop moontlik Pretoria toe kan verskuif. Wat presies is die situasie in hierdie opsig?

Ja, almal praat gewis oor hierdie saak – maar dis asof die amptelike standpunt wat al telkens gestel is, nie gehoor word nie. Ek kan dit onomwonde stel dat daar tans geen sprake daarvan is dat die fees na Pretoria, of enige ander plek, verskuif gaan word nie.

Die feesdireksie het opdrag gegee dat ’n omvattende studie gedoen moet word rondom die volhoubaarheid van die fees op medium- tot lang termyn. Een van die aspekte (en daars seker ’n stuk of 20) wat binne hierdie studie ondersoek sal word, is in watter mate die fees se ligging die fees op die pad vorentoe kan beïnvloed – positief óf negatief. Hierdie vraag word natuurlik nie gestel met die oog op ’n moontlike skuif nie, maar wel om die direksie en bestuur van betroubare inligting te voorsien waarvolgens toekomstige strategieëgerig kan word. Dis jammer dat daar op hierdie enkele aspek van die studie gefokus word – daar is ander, meer kritieke, elemente waarop die studie gaan fokus wat nie net vir Clover Aardklop nie, maar ook ander vervaardigende feeste belangrik sal wees in beplanning vir die toekoms.

Dis dalk belangrik om te noem dat hierdie studie nie ’n eerste vir Clover Aardklop is nie – dit was al voorheen ook gedoen en die fees is steeds in Potchefstroom. Maar dis juis die inligting wat uit hierdie tipe studie na vore kom wat die direksie in staat stel om alle faktore wat volhoubaarheid kan teenwerk, doeltreffend te bestuur. Dit sou uiters onverantwoordelik van enige direksie wees om nie inligting omtrent die volhoubaarheid van hul sakemodel te bekom alvorens strategiese beplanning gedoen word nie.

My eie opinie is dat die fokus van hierdie tipe ondersoekende studie (wat heelwat onafhanklike persone sal betrek) eerder verwelkom as gevrees moet word.

 

Watter soort reaksie het jy en die bestuur uit gemeenskappe, van feesgangers en van borge ontvang rakende diéberigte?

Sleutel-betrokkenes was reeds ingelig omtrent die voorgenome studie en daarom sou jy gesien het dat daar nie veel kommentaar deur ons borge was nie. Hulle het tog ’n deurlopende verhouding met die direksie en bestuur, en vertrou dat die direksie in belang van die fees optree en dat die bestuur hul mandaat hiervolgens sal uitvoer.

Omdat die "verskuiwing" van die fees, wat ons betref, nie tans ter sprake is nie, neem ons kennis van die terugvoer van die feesgangers en gemeenskap, maar bied hul die versekering dat daar geen rede tot kommer bestaan nie.

Volhoubaarheidstudies is in ieder geval ’n uiters inklusiewe proses en deel daarvan is konsultasie met alle rolspelers – ook feesgangers en persone uit die plaaslike gemeenskap.

Dit was wel bemoedigend om die steun te sien wat die fees geniet – veral in ons plaaslike gemeenskappe. Diegene wat verstaan dat wanneer daar gekyk word na die "plek" waarin die fees hom in die toekoms moet posisioneer, dit weinig te make het met geografiese ligging, is natuurlik nie bekommerd oor die gerugte nie.

 

Luidens Aardklop se webwerf het die eerste Aardklop-fees in 1998 plaasgevind. Hoe vergelyk die fees deesdae met die vroeëre feeste met betrekking tot watter elemente (musiek, teater, ensovoorts) die meeste aandag en voete trek en hoe die fees jaarliks aanpas by diésyfers?

Clover Aardklop is vandag ’n heel ander fees as in 1998, maar die kern bly dieselfde – ons is ’n vervaardigende kunstefees met ons hooffokus op die ontwikkeling van nuwe verhoogwerke in Afrikaans. Die feesterreine, as "markplein", is uniek aan die Afrikaanse kunstefeeste en gee ’n besondere karakter, maar dis beslis nie waaroor die fees gaan, of waaroor dit veronderstel is om te gaan nie. Die realiteit is egter dat hierdie aspek van die fees ons in staat stel om ons kernbesigheid te finansier.

Ek dink die meeste uitvoerende hoofde van vervaardigende feeste sal met my saamstem dat dit soms frustrerend is dat ons sukses byna heeltemal bepaal word deur kaartjie- en bywoningsyfers. Geen van hierdie feeste poog om bloot jaar op jaar meer mense te lok nie. Begrote kaartjiesyfers en -inkomste word gedoen aan die hand van die program wat gekeur word – ons stel nie ons program saam nadat ons finansiële teikens gestel het nie. Ons program is jaarliks vas voor daar ’n finale begroting goedgekeur word. Dis natuurlik ’n model waaroor enige sakeman sal frons, maar dit werk besonder goed by ’n vervaardigende kunstefees wat as ’n niewinsgewende maatskappy bedryf word. Na afloop van vanjaar se Absa KKNK lees ek hoe feesgangers sêdie strate was stil teenoor vorige jare, terwyl my eie ondervinding was dat die produksiesale gewis voller was. Is dit ’n teken dat die fees swaar trek? Beslis nie. Dis ’n stap in die regte rigting en iets wat vir seker bewerk word deur die feesbestuur se strategiese benadering.

As jy kyk na vanjaar se program by Clover Aardklop, dan is dit voor die handliggend dat daar minder kaartjies sou verkoop het as in jare waarin die program dalk meer groot kommersiële produksies bevat het. Maar volgens begroting klop die syfers – daar is immers beplan rondom die gekeurde program.

Vir heelwat plaaslike sake op feesdorpe bestaan die persepsie dat meer (mense op straat) altyd beter is, maar dis gewis nie die geval nie.

Die uitdaging vanjaar was, om te midde van die heersende ekonomiese omstandighede, nie sommer net te gryp na ’n oorwegend kommersiële program ten gunste van die inkomstestaat nie, maar om geloofwaardigheid te behou. Te oordeel aan die terugvoer omtrent die feesprogram is ek baie trots dat ons dit in ’n groot mate reggekry het.

 

 

Een van die (min) kritiekpunte wat ek al raakgelees het oor vanjaar se fees, is dat die jonger garde soms grootliks nie veel aanklank by die fees vind nie, veral aangesien OppiAarde iets van die verlede is. Wat is jou mening hieroor en hoe dink jy kan daar aangepas word om meer na jongmense se behoeftes om te sien by ’n fees soos Aardklop, aangesien hulle die volgende generasie "senior" feesgangers is?

Eerstens is dit totaal verkeerd dat ons rock-aanbod by die fees iets van die verlede is. Daar was vanjaar bloot nie ’n groot buitelug-konsert nie, maar Jack Parow, Van Coke Kartel, Tuindwergies, Straatligkinders, Bruce Noble, Winterstasie, Gevoel van Veiligheid, Oros in ’n Lang Glas en nog ’n string ander bands was wel te sien gedurende die fees.

Maar so ook was Woza Andries? , N is vir neurose en Ubu en die Secrecy Bill maar net drie van die fantastiese toneelaanbiedings waarby jongmense groot aanklank sou gevind het.

Hoewel ek graag sal wil sien dat ons weer in die afsienbare toekoms die buitelug-rockkonsert aanbied, gaan ek moeilik oortuig word dat rockkonserte alleen ’n volgende generasie "senior" feesgangers gaan lok wat teater sal ondersteun. By die vasstelling van vanjaar se program is besluit dat ’n gebalanseerde aanbod gerig op jongmense, eerder as ’n enkele rockkonsert, die strategie is waarmee ons ruim wil voorsiening maak vir jonger feesgangers.

 

In dieselfde asem: daar ontstaan soms ’n gemor oor Afrikaanse kunstefeeste in die algemeen dat biertente en so meer ander, meer "ernstige" feesgangers "afsit", asook omgekeerd. Wat is die regte soort balans waarvoor Afrikaanse kunstefeeste moet mik in diéopsig?

Die kapasiteit waarvoor voorsiening gemaak word by biertuine en gratis verhoëis minder as vyf persent van die totale kapasiteit waarvoor voorsiening gemaak word in produksie-venues. Eks dus meer as gerus dat die balans wel gehandhaaf word – deur toegangsgelde ens word feesgangers wat slegs biertuine bywoon en nooit binne-in ’n venue kom nie, wel verplig om by te dra tot die kernbesigheid van die fees.

Dit alles in ag genome, hoe beskou jy die groei van Aardklop in die nabye toekoms? Hoe verwag jy sal Aarklop oor sênou maar vyf jaar lyk, na aanleiding van feesgangers se belange en behoeftes wat verander?

 

Dis juis waarom ons besluit het om ’n omvattende volhoubaarheidstudie te laat doen – die patrone en tendense oor die afgelope jare laat geen duidelike beeld van wat in die toekoms verwag kan word nie. Die meer kommersiële feeste, waar min bestee word aan die skep van nuwe werk, kan die toekoms natuurlik makliker lees – jy sorg net dat wie ook al nommer 1 tot 5 op die treffersparade is, die Saterdagaand op jou hoofverhoog is. Wanneer jy jaarliks miljoene belêin die ontwikkeling van nuwe werk, is dit egter nie so maklik nie, aangesien teater tog maar gevoed word deur die omgewing waarin ons leef en ons nie altyd die kristalbal reg lees nie.

Ek glo egter dat daar ’n opwindende toekoms wag op die handelsmerke van die vervaardigende feeste – in watter vorm dit ook al voortbestaan.

 

Wat sou jy sêwas die hoogtepunte van die pas afgelope fees? Watter produksies, besprekings en dies meer het die meeste aandag getrek en waarvoor het jy persoonlik tyd in jou skedule oopgemaak, of wou jy tyd oopmaak?

 

My hoogtepunt vanjaar, sonder om ’n enkele produksie uit te sonder, was die sterk nuwe stemme (dramaturge, regisseurs en akteurs) wat na vore tree. Vir ’n jaar of twee was ons bekommerd dat daar nie jongmense deurkom nie, maar ons was vanjaar besonder opgewonde oor die werk wat hulle gelewer het. Dis egter belangrik om daarop te let dat vanjaar se uitmuntende jong stemme die produk blyk te wees van mentorskap deur van ons mees gesoute teaterpraktisyns. Dit het voorwaar nou weer die gesprek geopen rondom die nut van (en absolute noodsaak vir) ’n voltydse geselskap.