Aktuele gesprekke by Clover Aardklop Nasionale Kunstefees

Die Beeld Diskoers-reeks met gesprekke en gesonde debatte word vanjaar weer by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom aangebied onder die oorkoepelende tema van identiteit in die hedendaagse Suid-Afrika.
 

Die gespreksleier is Freek Robinson, aanbieder van Robinson regstreeks en ankeraanbieder van e.tv se Afrikaanse nuus op kykNET.
 

Buiten vir die geleentheid om te luister na kundiges wat gesels oor aktuele sake sal gehoorlede ook ’n kans kry om deel te neem deur vrae te vra.

 

Die gesprekke skop af op Woensdag 5 Oktober met Afrikaanse universiteite ’n kammaland? met prof. Adam Habib, hoogleraar in politieke wetenskap en vise-rektor van die Universiteit van Johannesburg, en dr. Flip Buys, uitvoerende hoof: Solidariteit, as die sprekers. Solidariteit praat daarvan om ’n Afrikaanse tersiêre inrigting vir afstandsonderrig te skep. Die vraag is of daar ruimte daarvoor is in ’n land wat steeds ’n lang pad moet stap met die skep van ’n werklik multikulturele samelewing.
 

In Wat is die prys vir wit skuld? (Donderdag 6 Oktober) voer prof. Anton van Niekerk, voorsitter van die filosofiedepartement van die Universiteit van Stellenbosch, en Eusebius McKaiser, politieke ontleder en medeprofessor in filosofie aan Wits, die debat verder oor hoe, of indien wel, wit mense vir hul jarelange bevoorregting moet “betaal”. Is die tyd nie verby dat daar in kategorieë soos wit en swart gedink moet word nie?
 

Met die regering se onlangse bekendmaking van die groenskrif oor grondhervorming is daar opnuut bewys dat die debat nog lank nie uitgewoed is nie. Louw Steytler, president van Vrystaat Landbou, en Edwin Mohlahlo, nasionale sekretaris-generaal van die Landless People’s Movement, neem deel aan die gesprek Grondhervorming – ’n gemors of ’n geleentheid? op Vrydag 7 Oktober.
 

Op Saterdag 8 Oktober met Afrikaanse rolprente – vasgevang in hul eie klein wêreld? word Leon van Nierop, rolprentresensent en skrywer, en Danie Bester, draaiboekskrywer en rolprentmaker, gepols oor die stand van Afrikaanse rolprente. Afrikaanse flieks beleef ’n opbloei, maar getuig dit van ’n gehalte wat internasionaal kan meeding?
 

Die gratis Beeld Diskoers-gesprekke begin elke dag om 08:30 (met koffie en beskuit ingesluit as ’n bonus) by die Rapport Boeke-oase op die feesterrein. Die gesprekke duur 90 minute.
 

* Die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees word van 4 tot 9 Oktober in Potchefstroom aangebied. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.
 




Hoofborge

ATKV Beeld kykNET Lotto Vodacom