Gereed vir Hamlet 39 jaar later

Bron: Beeld

29 September 2012

 

Hy is vandag eers ryp om Hamlet te speel, meen die verhooglegende Cobus Rossouw. In Kind Hamlet, ’n dokudrama deur Marthinus Basson wat op die Aardklop Kunstefees debuteer, onthou hy sy vertolking as die Deense prins in Robert Mohr se 1973-produksie. Schalk Schoombie het by ’n repetisie ingeloer.  


Het Hamlet langer geleef, het hy dalk gelyk, geklink en gedink soos Cobus Rossouw.

Die veteraanspeler maak merkies met sy potlood in die teks. Hy lees vinnig, sag en effens binnensmonds, opeens met passie en presiese artikulasie. 

Hy is ’n portretstudie van konsentrasie, die middelpunt van aandag. Op 79 steeds aantreklik, enigmaties; die spits gesig met bokbaardjie, jeugdige boogkuifie, groen oë geskreef agter swart dikraambril, in trui en dik baadjie gebondel.

Byna 40 jaar ná sy marathon-vertolking in Robert Mohr se gestroopte produksie – wat in Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein op die planke was – voel Cobus nou eers reg vir Hamlet. 

“ ’n Mens bly wonder: Het ek destyds reg daaraan laat geskied? Was ek goed genoeg...”

Die samesteller van Kind Hamlet, Marthinus Basson, vra: “Hoekom bly Hamlet in elke generasie gewild, soos rugby; altyd dieselfde, altyd anders?”

Cobus: “Uys Krige het gemeen Hamlet was sy eie antagonis. Maar hoe was Hamlet voor sy pa se dood, toe hy nog ’n sorgvrye student was, sonder die las van wraaksug?”

Langs hom sit Sandra Kotzé, sy vrou en kollega, knus in ’n kleurryke baadjie, rooibruin hare vasgebind. Cobus en Sandra is sy “toneelouers”, vertel Marthinus. Hy onthou Mohr se produksie “kristalhelder”. Tydens die speelvak in 

Stellenbosch het hy aand ná aand Cobus se vertolking van die syverhoog af bestudeer.

“Ek wou ’n stuk toneelgeskiedenis dokumenteer voor dit verlore gaan. Ons wou hierdie spelers gedenk en ook indringende vrae stel oor die teater vandag, die dilemmas van hedendaagse spelers. Ons vra: ‘Wat maak ’n akteur?’ Almal speel hulself en verwys na hul eie ervarings. Daar’s ruimte gelaat vir afwykings, eksplorasies, improvisasie...” 

Die teks, saamgestel uit grepe van onderhoude wat Marthinus met Cobus, Sandra en die jong spelers gevoer het, gebruik as vertrekpunt die eerste deurleesrepetisie vir ’n eietydse produksie van Hamlet. 

Dis ’n dokudrama, die repetisie-as-verhoogstuk, met gerepeteerde en spontane momente, die gepaardgaande oorvriendelikheid en spanning kenmerkend van ’n eerste deurlees.

“Hamlet was die eerste moderne man op die verhoog,” mymer Cobus. “ ’n Renaissance-man. Hy’s bevoeg om te heers, maar onsekerheid ondermyn sy optrede. Dis ’n komplekse persoonlikheid, vol twyfel en teenstrydighede. Hy wil die regte ding doen, maar wat is die regte ding? Wat is die regte ding vir elkeen van ons...” 

Vrae, teorieë, aanhalings bons oor die tafel terwyl ’n plastiekbakkie sjokoladekoekies rondgestuur word. 

Cobus herkou. Hy weeg alles, die keuse van woorde, frases, stellings. Hy luister skewekop na menings, stel sy kant vlymskerp, immer bewus van dubbelsinnighede, verglippende toespelings. 

“Ek’s moontlik verkeerd, maar wil tog ’n mate van sekerheid bereik...”

Hierdie keer speel Cobus nie Hamlet nie. In Kind Hamlet vertolk hy homself as veteraan wat terugdink aan die uitdagings van die rol destyds. Hy herontdek die synsraaisels van Shakespeare se grootste skepping vanuit ’n gryser, wyser perspektief. 

Vir die “repetisie” lees hy die rol van Claudius, Hamlet se oom. Die jong akteur wat Hamlet lees, is Ludwig Binge. 

“Hoe verkoop ’n mens jouself as akteur?” wil Ludwig weet. “Dis nooit aan my verduidelik nie. Ek doen drie, vier produksies op kunstefeeste en 12 dae van die jaar doen ek waarvoor ek opgelei is. Vyf maande van die jaar is daar nie vir my werk nie, dalk ’n TV-advertensie of twee...”

Cobus en Sandra verteenwoordig ’n ryklik geskakeerde stuk toneelgeskiedenis, terwyl die jong spelers nog ’n geskiedenis moet opbou, beduie Marthinus en rinkel die bos sleutels om sy nek veelseggend.

Die teks word ’n klip in ’n dam wat rimpels van ondervraging in alle rigtings stuur; oor die stand van ons kultuurgoedere, die generasiegaping, wedersydse verwagtings in pa-seun-verhoudings, verraad, moederliefde, gewete... 

“Dit gaan ook oor die gewetenloosheid in ons eie gemeenskap. Does conscience make cowards of us all? So kan ’n familietwis ontaard in ’n nasionale probleem, daar’s ’n vrot kol in Denemarke. Hoe is dit destyds gespeel, hoe speel ons dit vandag?”

’n Bal rol oor die houtvloer en ’n hond skarrel glyend agterna. Dis Proski, Cobus en Sandra se troue metgesel. 

“Moenie dit vir hom gooi nie, dan kry ek hom nie weer rustig nie,” maan Cobus. 

Hy was skrikkerig vir die rol, onthou hy. “Met so ’n groot rol moet ’n mens minstens drie maande voor die tyd begin, ’n repetisietyd is nooit genoeg nie. Dit vereis maande van voorbereiding, bepeinsing.”

’n Jong speler verklap dat hy maklik woorde leer. Cobus knik. “Maar die monoloë van Hamlet, as jy dit goed deurdag wil doen, sonder om onnodige pouses te maak wat die ritme versteur, met die regte tydsberekening, en jy moet nog daarvan ’n karakter maak, kan jy dit nie in weke baasraak nie. Jy het tyd nodig.”

Cobus Rossouw is in 1933 gebore in Marydale naby Prieska. “In die groot droogte en depressie, wat dalk ook ’n paar dinge verklaar.” 

Pa Jacobus Francois was in die polisiemag. Ma Susan ’n huisvrou. Hy was een van drie kinders, met ’n suster, Ria, en ’n broer wat jonk oorlede is. As vyfjarige in 1938 het hy die Eeufeesvieringe van die Groot Trek beleef. “Die optog van die ossewaens, die ruiters op hul perde – almal in die kleredrag en stemming van die tyd, het ’n diep indruk op my gemaak. Dit was ’n groot tyd vir die Afrikaner en vir Afrikanertrots – soos Schalk Pienaar in sy Getuie van Groot Tye vertel.” 

’n Eenkant-seun, skaam en teruggetrokke, onthou hy homself. “Miskien moes ek op die verhoog beland om uit myself te kom? Op skool was ek in alle opsigte – akademies, sosiaal, sportgesproke – onbetrokke.”

Hy het saam met sy ma die opvoerings van reisgeselskappe bygewoon. “Jy bespreek jou plek en vir ’n sjieling gaan koop jy lekkergoed wat jy eet en die spelers irriteer.”

Daar het ’n stigma gekleef aan reisende spelers, vertel Cobus. “Hulle was storievertellers, sonder huis of haard, regte gypsies. Die vroue was kwansuis sedeloos. En watter soort mans was dit nou! Onder die ligte van die skool- en kerksale het hulle nie gelyk soos die dorpsmense nie. Hulle het van êrens neergedaal om stories vol emosie te vertel, jou ’n ander wêreld te wys, iets onwerkliks – soos ons dit ervaar het.”

In die laat jare veertig het hy van die eerste opvoerings van die Nasionale Toneelgeselskap (NTO) gesien, Minnaar onder die Wapen, Altyd my Liefste, Nag het die wind gebring.

Hy het aan die Hoërskool Jan van Riebeeck gematrikuleer en een jaar van ’n BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi, daarna ’n jaar by die Kleinteater van die Universiteit van Kaapstad. 

“Ek was nie ’n goeie student nie,” bieg hy. Prof. Mohr het aan hom erken dat hy ná vyf maande moedeloos was: “Jy was so hopeloos dat ek op die punt was om te sê: ‘Los toneel, dis nie vir jou nie.’ Maar ek het gewag en gekyk, miskien...”

Nadat Cobus in 1951 vir Siegfried Mynhardt in Die Vrek gesien het, het sy spel soos handomkeer verander. 

“Daar het ek besluit dis wat ek wou doen.” Later sou Cobus sy eie stempel op die rol afdruk. “Ek’s vandag nog lief vir Moliére.” 

Hy het heelwat geleer by Siegfried Mynhardt se komedie-aanslag en tydsberekening. “Ek het ook by André Hugeunet geleer; hy’t met my oor projeksie gepraat, nie net van stem nie, maar projeksie van persoonlikheid, karakter, ritme – veral in sale met swak akoestiek – soos vandag nog by die feeste!”

’n Reis deur Engeland en Europa het hom aan die legendes van die buitelandse teater blootgestel.

“Laurence Olivier – die krag waarmee hy ’n karakter kon oordra... ’n dinamiek, ’n energie wat eenvoudig verstommend was. Sy Shylock. Ek het voor gesit en daardie aspek, afgesien van sy interpretasie, het my uitgeboul. ’n Mens leer iets daaruit, weet jy, al kan jy nie naastenby daarby kom nie, skiet dit in, maak dit oop. 

“Ek het Burton sien speel toe ek 20 en hy 27 was. Hy was ’n baie viriele Hamlet. Sterk, aantreklik. Hy het my beïndruk, maar ek was jonk, hierdie goed het jou beïndruk. Dit het ’n besliste invloed. Jy dink, hel dit is iets om na te mik. 

“Toe ek in 1961 in Duitsland was, het die Schiller-teater nog bestaan en hulle het sowat 14 produksies in repertorium gehad. Ek het al daardie produksies gesien, met uitstekende, wonderlike, skitterende spelers. Jou mond het oopgehang. Dit móés ’n invloed op jou hê. Ek het baie geleer deur hulle dop te hou... met verstomming. Hul persoonlikhede, tegniek, hul artistieke aanslag. Dit moet jou beïnvloed, dit kan nie anders nie. Maar plaaslik ook hoor, plaaslik ook. 

“Ek was elke aand, baie jare lank, saam met sulke spelers op die verhoog, en hulle verwag van jou om jou kant te bring, mee te speel.”

In 1965 het hy Sandra Kotzé, destyds ’n jong aktrise by Truk, ontmoet. In 1966 is hulle getroud. Al het hy dekades lank nou saam met Sandra gewerk, as kontrakspelers en regisseurs by die destydse toneelstreekrade, was daar min meningsverskille: “Ons koester dieselfde idees oor spelbenadering en ons het saamgestem oor oudisies en aanstellings.

“Dit gaan oor wedersydse respek,” beaam Sandra. “Hy het meer ervaring as ek gehad, ek is immers agt jaar jonger as hy. Ons het saam aan talle produksies gewerk.” 

Hulle het drie kinders, Wilmien, ’n TV-regisseur, Cobus, ’n regisseur, en Susan, ’n rolverdelingsregisseur. Daar is drie kleinkinders en ’n vierde op pad. 

“Ons kinders het met die verhoog en met kollegas grootgeword, daar’s niks wat jy kan doen as hulle in dieselfde rigting wil gaan nie.”

Intussen het Cobus kans gesien vir groot uitdagings; klassieke rolle, moderne karakters, tragedie, klug. Die moeilikste was koning Lear in die openingsproduksie van die Nico Malan-teater in Kaapstad: “ ’n Ontsaglike uitputtende rol waarvoor ek onbevoeg en verkeerd was. Ek ken my beperkinge, maar het dit tog gedoen – om verklaarbare én onverklaarbare redes.” 

In een jaar (1965) het hy ses toneelstukke opeenvolgend aangepak, onder meer Die Vrek enPeriandros van Korinthe

Sy aandeel aan rolprente soos Die Kandidaat (1968), Katrina (1969), Jannie Totsiens (1970), Die Groen Faktor (1984) en onlangs as Jos van Deventer in Die Wonderwerker kan nie onderskat word nie.

Hy was die skurk in Die Bankrower (1972), ’n politikus in Die Square (1974), ’n tweeling in My broer se bril (1972) en die leier van die Ossewa Brandwag in Manie van Rensburg se The Fourth Reich(1990).

“Ek het uitstekend met Manie saamgewerk, ons was goeie vriende,” knik Cobus. “Hy was ’n aangename mens, ’n spelersregisseur, altyd simpatiek en behulpsaam. Sy entoesiasme vir die medium was aansteeklik.” 

Sandra was benewens 20 jaar spelregisseur by die kunsterade sewe jaar lank bestuurder van Afrikaanse drama by die SAUK, ’n vername dryfveer om plaaslike sepies en dramareekse te inisieer. Cobus het in dramareekse soos Sagmoedige Neelsie (1983) gespeel, maar erken ruiterlik dat hy nie vir sepies kans gesien het nie. 

“Ek sou dalk beter gevaar het as wat ek vermoed, maar ek dink nie ek sou so goed gefunksioneer het nie.” 

In 2011 is hy met ’n Fiesta-prys vereer vir sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse teater.

“Toneelspel kan terapeuties wees, maar jy leer jouself nie noodwendig beter ken nie. Ek is wel meer seker van wie ek is wanneer ek speel – ek ken die karakter en dis iets wat ek met fokus en konsentrasie twee of drie ure lank kan doen. Dalk steek daar waarheid in dat ons akteurs nie gevul is met ons eie menswees nie, dat toneelspel pogings is om ’n volle wese te skep.” 

Hamlet was die enigste karakter wat lank ná ’n optrede by hom gebly het.

Hy hou niks van die woord “inlewing” nie. “Toneelspel is miskien ’n manier om ’n paar uur lank van jouself en jou probleme te vergeet, maar jy vergeet nooit van die gehoor nie. Jy bly bewus van hul betrokkenheid. Jy wonder: ‘Skiet ek tekort en probeer dan opmaak met ’n karakter, ek voel onvolledig en vul die leemte met ’n karakter.’

“Dit kan selfsugtig klink. Is toneel net ’n manier van ontvlug? Wat dan van die verhoogkuns? Dit vereis dalk mense met leemtes soos ons? Ek het dit in ’n sekere sin so ervaar. Hoekom skilder iemand of skryf musiek? Sy lewe is nie volledig daarsonder nie, en daar kan ook net oomblikke van volledigheid wees. Dit gaan nie oor briljant wees nie. Ek het eers ná baie jare erken, ja, ek moes maar eintlik speel, want dikwels wou ek nie. Ek wou eerder in stilte skilder of musiek maak.

“Die onmiddellikheid van skep voor ’n gehoor kan pynlik wees. Jy kan hoegenaamd nie van die gehoor ontslae raak nie. Jou lyf, sintuie is betrokke, jy’t hard gewerk, gerepeteer, dis ’n boeiende verhaal en jy’s ’n rat in die ratwerk, maar nogtans bly jy intens bewus van wat jy voor mense doen. Jy’s eintlik meer bewus van mense op die verhoog as wanneer jy van die verhoog af is. 

“Daarom kan dit nie ware inlewing wees nie. Brecht het verwys na gehoorkuns en verhoogkuns. Die gehoor moet weet hoe om intelligent en sensitief te reageer. Daarom is ek so mal oor simfoniekonserte. Ek vind dit emosioneel meer opwindend en bevredigend as toneel. Ek hou van die manier waarop die gehore luister. Musiek snoer mense saam soos teater kwalik kan. Die mense luister in stilte en wil nie hoes of nies nie.

“Ná 22 jaar van hoofrolle was ek moeg, maar ek moes aanhou. Jy moet jouself kan pace as klassieke akteur in groot rolle. Ek het ’n huis en kinders gehad. Ek was altyd eerstens ’n speler, al het ek regie ook gedoen.” 

Sou hy iets anders wou wees? “Dalk ’n joernalis of radio-omroeper...” Hy verkies eenvoud, musiek, stilte, om alleen met sy boeke te wees. Uittreksels uit Shakespeare-werke dool nog deur sy gedagtes: “Soveel wonderlike woordmusiek en beeldspraak – ’n mens vergeet dit eintlik moeilik.”

Die tuin op Pringlebaai, waar die Rossouws al ’n paar dekades woon, groei vol aalwyne, maar die bobbejane, ystervarke, hadidas en duikers maak ’n groentetuin onmoontlik. “Ons kan nie ’n wortel plant nie! Die voëls kom in die huis in, mossies, streepkoppies, janfrederikke, kwikstertjies, selfs die suidelike waterfiskaal, en die voëlmis is oral.” 

Hulle gaan stap graag op die strand en bergpaadjies met Proski. Cobus bak brood en karringmelk- en boerbeskuit. “Ek kan nie kafeebrood verduur nie. Ons gaan selde uiteet en geniet dit selde.” Hulle vermy gebraaide kos en verkies vegetariese geregte en vis.
En soos Hamlet spaar hy homself nie. Hy bevraagteken, hy peins. “Ek wou dink ek was veelsydig, maar dalk was ek nie? Wel, die bereidwilligheid was altyd daar om te sien of ek kon.”

Kind Hamlet word van 2 tot 7 Oktober op die Aardklop Kunstefees in Potchefstroom opgevoer.


Miskien moes ek op die verhoog beland om uit myself te kom? Op skool was ek in alle opsigte – akademies, sosiaal, sportgesproke – onbetrokke.